Vyf van Suid-Afrika se grootste name in die Afrikaanse musiekbedryf het saamgewerk aan ’n splinternuwe liedjie, Die Land, wat Suid-Afrikaners se harte trots gaan laat klop oor dié land – maar ook gaan los met ’n paar intense vrae. Steve Hofmeyr, Bobby van Jaarsveld, Jay du Plessis, Bok van Blerk, en Ruhan du Toit van die bekroonde duo Touch of Class, se enkelsnit, Die Land, is pas vrygestel en gaan selfondersoek by elke Suid-Afrikaner bring oor wat ons vir ons nageslag gaan nalaat.   

 

Ondanks die onsekerheid wat talle Suid-Afrikaners ervaar is dit bykans of hierdie lied inwoners wil smeek om in die land te bly en daarin te belê – soos God se doel was met elke persoon wat Suid-Afrika sy tuiste noem. Met diep lirieke vanuit die pen van die bekroonde liedjieskrywer Johan Oberholzer, bring die lied ’n gevoel van trots oor dit wat aan ons toevertrou is.  

 

“Ek is baie opgewonde oor Die Land en ek en my kollegas wil met hierdie lied die boodskap van hoop aan elke Suid-Afrikaner bring,” het Steve Hofmeyr vertel.

 

“Dit gaan nie net oor die situasie waarin ons is nie, maar dit gaan oor dít waarin ons glo en wat ons wil nalaat vir ons nageslag,” het hy gesê.  

 

In die musiekvideo, wat vir die eerste keer gewys gaan word gedurende Jukebox op kykNET NOU op 15 September, kyk die kunstenaars jou reguit in die oë terwyl hulle vra wat jý eendag gaan agterlaat. Hulle antwoord op die vraag dat hulle die son, see en land sal los want dít is wat God aan elke Suid-Afrikaner gegee het.

 

’n Spesiale embleem is ontwerp wat Suid-Afrikaners met trots kan aflaai en vertoon. Die publiek kan ’n spesiale webtuiste, dielandbehoortaanjou.co.za, wat van 7 September lewendig is, besoek om ’n plegbelofte af te lê. Dié belofte bepaal dat die embleem ’n bewys is dat jou liefde vir die land sal bly staan en dat jy weet niemand sal van jou kan wegneem wat God gegee het nie.

Die Land gaan by vanjaar se Afrikaans is Groot-konserte gehoor word en dit gaan beslis bydra tot meer hoendervleis-oomblikke – so maak seker jy het kaartjies. Die snit sal einde September eksklusief beskikbaar wees op die Afrikaans is Groot Vol. 11-album. ’n Plakker van die embleem sal saam met elke album gekry word wat met trots op ’n voertuig vertoon kan word.

 

Almal word genooi om op sosiale media kommentaar te lewer met die hutsmerk #DieLandBehoortAanJou.