Die bekoorlike dorp Nieuwoudtville lê op die Bokkeveld-plato waar die Kaapse fynbos die Hantam Karoo, Boesmanland en die Knersvlakte ontmoet. Net neffens die dorp is die historiese plaas Willemsrivier, waar geskiedenis en nostalgie bymekaar kom vir ’n unieke plaas-kombinasie.

 

Die plaas is die tuiste van elf bekoorlike gastehuisies, elkeen met ’n unieke styl en tema. Die gasteplaas is ’n gewilde bestemming in dié geweste. “Of besoekers nou wil ontspan en saans sommer net na die sterre wil kyk, of die meer energieke gaste eerder een van die talle aktiwiteite op die plaas wil aanpak, die plaas maak voorsiening vir elkeen se behoeftes,” sê Erika Kotzé, eienaar.  

 

“Ons het sedert laas maand die Trekpad & Skerm eetplek oopgemaak sodat gaste heerlike geregte kan bestel terwyl hulle by ons tuis gaan. Gaste kan nog steeds hul eie voedsel voorberei, maar ons loop daardie ekstra myl vir diegene wat nie tyd voor die stoof wil spandeer nie. Willemsrivier bied verskeie aktiwiteite wat besoekers kan besig hou,” sê sy.

 

Daar is verskeie stap- en seisoenale blomroetes en talle 4×4- en bergfietsroetes. Nou met die lenteseisoen wat amptelik hier, stroom besoekers met busse na Willemsrivier om deel uit te maak van hierdie blom-ervaring. Die verskillende blomspessies is vanjaar werklik pragtig en oortrek die hele Willemsrivier sover as wat jy met die oog kan sien.

 

“Gaste kan die tipiese warm gasvryheid van die mense in hierdie geweste verwag en slegs die stille en gesellige atmosfeer van Willemsrivier geniet,” sê Erika.

 

Die plaas het ook talle geskiedkundige geboue en spog met ’n kleurryke geskiedenis. Van die historiese geboue wat besigtig kan word, is onder meer die ou kerk, ou skool, ou tronk, daar is ook verskeie besienswaardighede op die plaas en in die omgewing wat ’n besoek werd is.

 

“Ons het gister nagmaal in die ou kerkie gehou om net weer ons geskiedenis van die plaas te herdenk. As gaste ’n bietjie ervaring wil opdoen rondom Willemsrivier is daar die waterval wat nabygeleë is asook die Hantam Botaniese tuin en Papkuilsfontein. Ons gee padkaarte met aanduidings vir besoekers om al die lekker en interessante aktiwiteite te aanskou,” sê Erika.

 

Vir meer besonderhede oor Willemsrivier, gaan na willemsrivier.com of besoek hul Facebookblad by @willemsrivier, Twitter @willemsrivier.com of Instagram www.instagram.com/willemsrivier/