Die 33ste Swartland-veeboereveiling vind op Donderdag, 20 September plaas op die plaas Bossiesvlei buite Moorreesburg. Veeboere durf die dag nie misloop nie, aangesien daar ’n top-gehalte aanbod van 1 099 diere gaan wees.

 

“Hierdie is die oudste vleisbeesveiling in die Wes-Kaap. Top-telers van vyf rasse word onder een dak op een dag verkoop,” sê Philip de Waal, eienaar van Bossiesvlei en die Locheim Stoetplaas. “Die Locheim Hereford- en Simmentaler-kudde is wêreldwyd bekend.

“Daar word verskeie kampioene op die veiling aangebied en die diere word landwyd afgelewer. Ons verwag dat kopers van regoor Suid-Afrika die veiling gaan bywoon. Baie nuwe genetika word aan die vleisbeesbedryf vrygestel en gevolglik is die gehalte vanjaar besonders.”

 

Altesame 15 Hereford vroulike diere en 20 bulle, 15 Simmentaler vroulike diere en 15 bulle, 4 rooi Angus vroulike diere en 3 bulle, 9 swart Angus-bulle, 5 Sussex vroulike diere en 3 bulle en 1000 lammers sal die dag opgeveil word. Hereford, Simmentaler- en Swart Angus-beeste is veral gesog onder veeboere vir hul deug as gehalte vleisbeeste.

 

“Die Hereford-verse op die veiling is meesal dragtig juis van ingevoerde genetika. Een van die beste Simmentaler-bulle in die land word ook op die veiling aangebied,” sê De Waal.

Volg die N7 van Moorreesburg na Malmesbury vir 7 kilometer en hou by die GWK-wegwysers om by die plaas Bossiesvlei uit te kom. Indien jy van Malmesbury ry, volg die pad vir twintig kilometer en hou by die GWK-wegwysers.

 

Besoek gerus www.swartlandveiling.co.za vir meer inligting.