Met slegs twee weke oor voor die jaarlikse Madeliefie Makietie-fees loop die opgewondenheid hoog! Die prentjiemooi Weskus stranddorp, Strandfontein, maak gereed vir een groot kuier op Vrydag, 26 en Saterdag, 27 Oktober. Ons hoop jy gaan die pad einde Oktober na die pragtige juweeldorp vat!

 

“Ons is trots daarop om besoekers van heinde en verre op ons spog-kusdorp te verwelkom. Die Madeliefie Makietie is die lekkerste kuierfees aan die Weskus vir almal. Feesgangers kan uitsien na twee dae van uitstekende vermaak vir jonk en oud,” sê Piet Otto, voorsitter van die Madeliefie Makietie-feeskomitee.

 

Altesame 25 van ons land se top-kunstenaars gaan vermaak aan feesgangers bied. Hulle is onder andere Leah, Karlien van Jaarsveld, Jo Black, Juan Boucher, Willem Botha, Lee Scott, Majozi, Snotkop, Irene-Louise van Wyk en die immergeliefde Country Legends waaronder Barbara Ray, Lance James, Clive Bruce en Tommy en vele meer.

 

Daar is vanjaar weer drie verhoë waar hierdie top-kunstenaars jou gaan vermaak met lekker dans- en singliedjies. Die drie verhoë is die perdeskoen-amfiteater, die seetuin-verhoog en die gemeenskapsverhoog. Elke verhoog bied iets anders en daar is vermaak vir ieder en elk om na uit te sien.

 

“Die fees beloof vermaak vir jonk en oud. Van die land se top-kunstenaars wat jou heeltyd op jou voete gaan hou, kuiertente waar jy die lekkerste kos en wyn kan geniet, pretritte vir kinders en vele meer,” voeg Otto by.  

 

Strandfontein is reeds in rep en roer met die verhoë wat gebou word, die feesterrein wat mooi gemaak word, stalletjieplekke vir stalletjiehouers wat uiteen gesit word en laaste reëlings wat bespreek word vir die fees van alle feeste aan die Weskus. Die A-blok is herstel, gras is geplant en dit lyk ongelooflik mooi met die ablusiegeriewe en chalets wat oorgedoen is. Feesgangers en musiekliefhebbers gaan oor ’n paar dae die dorp besoek en sal sommer die opgewondenheid voel as hulle die dorp binnevaar.  

 

Vir Werner Coetzer, sepiester en akteur wat as seremoniemeester optree, is die Weskus die mooiste plek. “Ek was so vinnig op Vredendal. Al wat ek weet, is dat dit regtig mooi is en dat die mense vriendelik is,” sê hy.

 

Sepiester Stefan Vermaak is saam met Coetzer op die verhoog te sien as seremoniemeester, so jy wil beslis nie hierdie twee hartebrekers mis nie.

 

Nie net kan jy uitsien na jou gunsteling kunstenaars nie, maar daar is ook die lekkerste kos en heerlikste drankies om jou hongerpyne te stil en dors te les. Met ’n verskeidenheid stalletjies wat te sien gaan wees, sal feesgangers nie vir een oomblik honger of dors wees nie.

 

Besoekers van Frankryk, Kilyan Ferveur en Alice Lemaitre, wat tans hul internskap in Suid-Afrika doen, kan nie wag om vanjaar se fees by te woon nie. “Ons is baie opgewonde om die Madeliefie Makietie-fees op Strandfontein by te woon. Vir die eerste keer gaan ons na ’n behoorlike Suid-Afrikaanse fees en sien uit om ’n goeie tyd te hê.”

 

Hulle sien ook veral uit na die wynstalletjies en die tuisgemaakte versnaperinge soos biltong wat in oorvloed beskikbaar sal wees oral op die feesterrein.

 

Die feestelike atmosfeer en aromas by vanjaar se opskop sal jou vir een oomblik nie laat stilsit nie. Waarvoor wag jy? Teken nou Vrydag, 26 en Saterdag, 27 Oktober in jou kalender aan of plak sommer ’n nota in jou dagboek want hierdie geleentheid is iets waarop jy nie mag uitmis nie.

 

Terwyl jy die geregte en drankies geniet, kan jy na jou gunsteling kunstenaar luister wat jou vir etlike ure gaan vermaak en sommer ook die pragtige Strandfontein bewonder.

 

Feesgangers wat graag ’n MM-klubkaart wil koop of dalk ’n gewone Computicket-kaartjie wil inruil vir ’n BBP-kaartjie, kan by die feeskantoor aanmeld.

 

Bly op hoogte van die jongste Madeliefie Makietie-nuus op Facebook, Twitter en Instagram. Besoek ook ons webtuiste by www.madeliefiemakietie.co.za om meer te lees.

 

Kry die volledige feesprogram by www.madeliefiemakietie.co.za. Kaartjies is beskikbaar by Computicket, Shoprite/Checkers-, House & Home-winkels, of kontak 0861 915 8000.

 

Kaartjiepryse is as volg:

 

Vir Vrydag, 26 Oktober:

 

Kaartjies vir kinders – R50 (7 – 17 jaar)

Kaartjies vir volwassenes – R100

 

Vir Saterdag, 27 Oktober:

 

Kaartjies vir kinders – R60 (7 – 17 jaar)

Kaartjies vir volwassenes – R130

 

Vir medianavrae: Cindy Schade

 

E-pos: cindy@namaqua-eng.co.za

Tel: 071 151 6526