Wanneer jy as musikant op die ouderdom van 24 reeds met die grootste koninklike name in die musiekbedryf soos Arno Carstens, Francois van Coke, aKING, Caroline Grace, Blackbyrd, Taxi Violence en Louise Day as kitaarspeler gewerk en getoer het, kan jy maar weet dat jy oorloop van talent. En as jy boonop as solo kunstenaar opgetree het by die land se voorste kunstefeeste en konserte (soos Oppikoppi, KKNK, Aardklop en meer), mag jy maar jou eie album vrystel met die wete dat jy dit teen nou sonder twyfel verdien.

Dit is presies wat Frank Freeman sopas gedoen het met Moeder Tong – ‘n vrystelling gevul met belowende treffer liedjies wat hy self geskryf het, almal in Afrikaans.

Sê Frank, wat in Bloemfontein groot geword het en dadelik na skool Kaapstad toe getrek het: “Toe ek Kaap toe getrek het wou ek wegbreek van wat ek ken. Nou na amper 7 jaar hier voel ek of ek baie beter verstaan waar ek vandaan kom, waarvoor ek groot waardering het. Met Moeder Tong probeer ek iets in Afrikaans doen wat ek glo nodig is. Dit is my bydra tot my kultuur.”

In sy eie woorde verduidelik hy dat “hierdie musiek nie net ‘n paar akkoorde is wat saam gebliksem is vir ‘n kampvuur saam-sing sessie nie”. Hy voeg by: “Dit is ‘n stempel op my paspoort. Dis klanke en woorde wat vasgevang, verpak en uitgestuur word na die wêreld. Dit gaan vir altyd bestaan. Dit is denke, stories wat oorsprong vind in wat ek al gesien het, hoe ek dit ervaar het en waar ek al oral was. Dis ‘n deel van wie ek is – bang, braaf, vol twyel en ambiesie. ‘n Afrikaanse laatie van die Vrystraat opsoek na sy toekoms.”

Op die eerste twee enkelsnitte wat Frank vanaf Moeder Tong gaan vrystel het hy saam met Fred den Hartog van Die Heuwels Fantasties as vervaardiger gewerk. Verder belowe hy ‘n hele paar ander verrassings vir aanhangers.

Frank verseker almal dat hy wel kan spel en weet dat Moeder Tong streng gesproke een woord moet wees. “Ek het dit oorspronklik gedoen om dit visueel meer aantreklik te maak, maar toe begin ek hou van hoe dit so bietjie van ‘n woordspeling het. Dit lê klem op die woorde van die liedjies. Dis vir my belangrik en wat hierdie projek uitsonder bo enige iets anders op die mark,” verduidelik hy.

Van Vrystaatse laatie tot groot naam in die bedryf

Frank is in Bloemfontein gebore (10 Desember 1993) en het daar saam met sy ouer broer groot geword. Hul pa is ‘n landboukundige en hul moeder ‘n mediese tegnoloog. Aangesien hy die enigste musikant in die familie is, weet Frank glad nie waar hy sy talente vandaan kry nie.

So het sy ouers sy keuse van loopbaan ondersteun? “Ek dink vir enige ouer wat hoor hul kind wil ‘n musikant word is daar seker maar rede om skepties te wees. Hulle was en is dalk nog, maar hulle ondersteun my in wat ek doen,” sê hy.

Die groot vraag op almal se lippe is natuurlik hoe hierdie laatie van die Vrystaat dit reg gekry het om nie net ‘n voet in die deur te kry waarvan ander net kan droom nie, maar op so jong ouderdom én met die grootste name. Frank krap ‘n bietjie kop om ‘n kort weergawe van ‘n lang storie te vertel: “Ek was gelukkig genoeg om redelik vroeg te begin shows speel. Ek was vanaf 7 jaar in ‘n Boere Orkes wat selfs in Europa opgetree het. Op 13 het ek by my eerste rock band aangesluit. Daarna het mense my begin bel en vra om vir hulle kitaar te speel. Ek was maar ‘n jong musikant in Kaapstad toe ek die oproepe gekry het van ouens soos Arno Carstens en daarna Francois van Coke. Dis nou die kort weergawe.”

Frank het wel ‘n diploma as klankingenieur en in musiekproduksie verwerf by City Varsity, maar hy het altyd geweet dat hy ‘n voltydse musikant wou wees.

Een van sy vele loopbaan hoogtepunte was om by Kirstenbosch in die Kaap op te tree. Hy verduidelik: “Jy weet sonder twyfel jy speel die coolste gig in die stad daar. Ek was al gelukkig genoeg om ‘n paar keer daar te speel saam met mense wie se musiek ek saam mee groot geword het. Dit bly altyd ‘n voorreg.”

 

Wie is Frank as mens agter daai kitaar en stem?

 

Frank beskryf homself as ‘n denker, ‘n waarnemer en ‘n totale kansvatter. “Ek buig reëls so ver ek kan, maar ek het sterk waardes,” sê hy met ‘n vonkel in sy oog. Hy voeg by: “Ek is nog te jonk om ‘n resep te hê vir sukses. Ek probeer net dinge wat pla verander in iets wat my beter laat voel. Ek sukkel maar nog, maar solank ek kan aanhou musiek skryf en speel staan ek ‘n kans om dinge interessant te hou. My grootste vrees is om ‘n vervelige lewe te lei. Ek probeer om dinge eenvoudig, maar betekenisvol te hou.”

Verder is hierdie talentvolle jongman ook ‘n bokser en ‘n gretige whiskey drinker. In ‘n kroeg sal jy hom heel moontlik sien pool speel – “dis my game daai” – of in ‘n betekenisvolle gesprek met iemand vang.

“Kyk, ek kom van die Bloemfontein Springbok-rugby-fabriek af genaamd Grey Kollege. Ek is nie jou tipiese Grey ou nie. En ek wou nooit wees nie. Ek moes my gat af werk vir my nalatenskap by die skool in ‘n veld wat hy nie voor bekend is nie…’n onwaarskynlike loopbaan vir iemand wat kom van waar ek doen,” deel hy.

Frank se musiekhelde en invloede sluit in kunstenaars soos Ryan Adams, Johannes Kerkorrel, Bob Dylan, Jason Isbell, The War On Drugs, Placebo en Jeff Beck, onder andere.

Vir die volgende jaar is Frank omtrent aan die gang met optredes saam met Arno Carstens, Francois van Coke en ‘n hele klomp ander kunstenaars, maar “die Moeder Tong projek is my groot fokus”, noem Frank.

Hy sluit af deur te antwoord wat sy groot droom is: “Dis moeilik om te sê. Mens weet nooit wat realisties is in hierdie game nie, maar vir nou is dit om my eie musiek te skryf en daarna te toer op so groot skaal as moontlik. Ons sal maar sien hoe dit gaan.”

Frank se enkelsnitte is op meeste digitale platvorms beskikbaar, en die volledige Moeder Tong album sal ook binnekort wees.

Sien Frank se nume musiekvideo hier: https://www.youtube.com/watch?v=_CTHnAGv5B8.

Volg gerus vir Frank op sosiale media: Facebook (Frank Freeman) en Instagram (@_frankfreeman_)