Die grootste musiekfees aan die Weskus het die naweek met groot sukes plaasgevind, toe duisende besoekers en feesgangers op die skilderagtige Weskus stranddorpie, Strandfontein, toegesak het.

 

Al die elemente vir ’n wenresep was daar – 25 top-kunstenaars, heerlike lekkernye eie aan die streek, die beste  sonskyn

 

“Die tweede Madeliefie Makietie wat op Strandfontein gehou is, was ’n dawerende sukses. Die besoekerstal alleen het ons verstom – duisende kaartjies is verkoop. Elke aanbieding en vertoning het boonop klopdisselboom verloop. Die fees is ’n bewys dat sakelui, kunstenaars, inwoners en feesgangers saamgebring kan word vir ’n wonderlike sosiale geleentheid,” het Piet Otto, voorsitter van die feeskomitee gesê.

 

Feesgangers het weer eens bewys dat dit die fees met die mooiste arena in die land is. Die hoofverhoog in die Perdeskoenteater het gespog met van Suid-Afrika se grootste kunstenaars, soos Jo Black, Willem Botha, Snotkop, Leah en Majozi. Dit was ’n prentjiemooi ervaring omring deur ’n asemrowende see-uitsig met die mooiste kleurskakerings.

 

Feesgangers het op die strand en in die water baljaar, tussen die stalletjies en langs die strand geloop. Sommige het ook by die kuiertente gesit waar hulle heerlike kos geëet en drankies geniet het – alles terwyl hulle die musiekoptredes geniet met die wonderlike uitsig van die see in die agtergrond.

 

By die grootste makietie in die Weskus het 25 van ons land se top-kunstenaars waaronder Jo Karlien van Jaarsveld, Lee Scott, Dirk van der Westhuizen, Majozi en ander opgetree en die feesgangers vermaak het. ’n Hoogtepunt was die Country Legends wat ’n stukkie nostalgie na die fees gebring het. Die vertoning van die Country Legends, asook Wynand en Cheree was beslis die moeite werd gewees.

 

Volgens die gewilde Jo Black was die fees ongelooflik en wil hy weer volgende jaar deel wees van die ervaring. “Die Madeliefie Makietie was fantasties en ek hoop julle nooi my weer volgende jaar.”

 

Snotkop het die Juweelfees afgesluit met van die lekkerste dansliedjies soos Sous, Raak Vir My Rustig, Dikkelicious en vele meer. Die feesgangers was op hul voete vir die liedjies, en het nie vir een oomblik stil gesit nie.

 

Daar was heelwat aktiwiteite vir die hele gesin, soos ‘n pretpark met mallemeule vir die kinders, raakrugby-wedstryde, maltrap-fietsryroete en kroontjies vir die oulikste kleingoed. Jy kon selfs Strandfontein uit die lug bewonder het met die helikopter-ritte wat beskikbaar was tydens die fees. Besoekers het op sosiale media menigde kere genoem dat dit die beste Makietie nóg was, en sommige wou reeds weet wanneer kaartjies open vir volgende jaar se fees.

 

Kyk wat het die feesgangers oor die fees te sê:

 

“Beste, mooiste, en lekkerste fees in die land! Het alle verwagtinge oortref! Is beslis weer daar! Dankie aan julle organiseerders julle was fantasties!!!”, het Christina Anthonissen Burger op Madeliefie Makietie se Facebook-blad genoem.

 

Volgens Pieter Rautenbach, was die jaar se fees die “wonderlike familie en vriendekring ervaring.” Betsie Badenhorst het ook genoem dit die fees vol “vriendelike mense, lekke shows met goeie kunstenaars” was.

 

Die feeskomitee van Madeliefie Makietie het bevestig dat die volgende Madeliefie Makietie op die naweek van 25 en 26 Oktober 2019, op Strandfontein, sal plaasvind.

 

Hou gerus Madeliefie Makietie se sosiale media dop vir al foto’s en videos wat tydens die grootste Weskusfees nog geneem is. Jy kan ook die blad dophou vir sodra kaartjies beskikbaar gestel word.

 

Facebook: @MadeliefieMakietieSA

Twitter: @MadeliefieM

Instagram: @MadeliefieMakietie

Webtuiste:  www.madeliefiemakietie.co.za