Skaars twee weke ná Demi Lee Moore, wenner van die eerste Die Kontrak-televisieprogram, se album, Mis Eet Slaap Herhaal, die rakke getref het, spog dit reeds met goue status.

 

Demi Lee is op 23 November, tydens die eerste Afrikaans is Groot-konsert, aangewys as die wenner van dié gewilde televisieprogram op VIA (Kanaal 147). In die program is kykers voorgestel aan hoopvolle deelnemers wat graag ’n Coleske Artists-kontrak wou inpalm.

 

Demi Lee se album, Mis Eet Slaap Herhaal, bevat haar nuwe enkelsnit met dieselfde titel, nog drie oorspronklike treffers, van die liedjies wat sy op Die Kontrak-program gesing het, asook die gewilde vertolking van die Amerikaans countrysangeres, Cam, se treffer Diane. Nadat Demi Lee saam met haar mentor op die program, Monique Steyn, dié lied opgevoer het, het hulle ook Cam se aandag getrek wat hulle op sosiale media komplimenteer het met die weergawe.

 

Tydens die laaste Afrikaans is Groot-vertoning was Demi Lee verras ’n goue toekenning vir haar album ontvang vir verkope van meer as 15 000 eenhede. Dit is ’n uitsonderlike prestasie vir enige kunstenaar, nie eers gepraat van ’n kunstenaar nuut op die toneel met ’n album wat slegs twee weke oud is.

 

Om alles te kroon is Demi Lee ook verras met ’n splinternuwe Toyota C-HR-voertuig. Calvyn Hamman, senior visie-president van Toyota, het dié voertuig aan haar oorhandig.

 

’n Oorstelpte Demi Lee was emosioneel toe sy die voertuig ontvang.

 

“Ek kan dit nie glo nie! Dit voel só onwerklik, al my drome word waar,” het sy gesê.

 

Volgens Toyota verdien sy die motor het Hamman, op die Afrikaans is Groot-verhoog, gesê.

 

“Demi Lee moet altyd daarna streef om die beste Afrikaanse musiekster in Suid-Afrika te wees.”

 

Afrikaans is Groot het pas nege uitverkoopte vertonings aangebied in Pretoria.  Daar is nog enkele kaartjies oor vir Afrikaans is Groot se konserte in Kaapstad volgende jaar op Vrydag 15 Maart om 19:30, Saterdag 16 Maart om 13:00 en 19:30, en op Sondag, 17 Maart om 13:00 by die GrandWest Casino. Kaartjies is slegs by Computicket beskikbaar.