Tydens die fotosessie van die Afrikaans is Groot-verjaarsdagkalender moes sommige van die kunstenaars wat betrokke is, hul vrese letterlik en figuurlik reguit in die oë staar met ietwat eksotiese reptiele wat as rekwisiete gebruik is.

 

Die pragtige Karlien van Jaarsveld is een van dié groot kunstenaars wat op die kalender pryk en ook wat ’n enorme fobie vir slange het.

 

Haar broer, Bobby, het op sy sosiale media ook met haar gespot daaroor en nie op hom laat wag om die slange vas te hou en te troetel nie – tot Karlien se ontsteltenis!

 

“Ek is regtig baie bang vir slange, dit is een van my grootste vrese. Ek was heeltyd op my senuwees op stel, maar ek moes toe maar my vrese in die gesig staar omdat ek geweet het hierdie is vir ’n goeie doel,” het sy laggend vertel.

 

Al die opbrengste van die kalender word aan Helpende Hand se #StopHonger-veldtog geskenk om seker te maak dat 8 000 behoeftige kleuters landwyd ’n gesonde bord kos het om te eet.

 

“Dit was verseker een van die mees interessante fotosessies waarby ek nog ooit betrokke was en ek is so trots om deel te kon wees daarvan want die eindproduk is so mooi,” het sy gesê.

 

Vir elke maand van die jaar is daar ’n ander kunstenaar teen ’n pragtige agtergrond en van hulle is waaghalsig met slange en selfs ’n baardakkedis! Hier volg die lys van kunstenaars in wie se geselskap jy die onderskeie maande gaan wees:

 

Januarie: Bobby van Jaarsveld

Februarie: Monique Steyn

Maart: Jay

April: Karlien van Jaarsveld

Mei: Steve Hofmeyr

Junie: Die Heuwels Fantasties

Julie: Elvis Blue

Augustus: Corlea Botha

September: Dewald Wasserfall

 

Oktober: Bok van Blerk

November: Tarryn Lamb

Desember: Riana Nel

 

Die kalender is ’n unieke verjaarsdaggeskenk en die ideale Kersgeskenk vir iemand wat ’n liefde het vir Afrikaanse musiek.

 

Dié kalenders is by die Afrikaans is Groot-konserte, wat tot 2 Desember in Pretoria plaasvind en Maart 2019 in Kaapstad, beskikbaar, asook aanlyn op Maroela Media se e-winkel op https://maroelawinkel.co.za/products/afrikaans-is-groot-kalender.