Teeliefhebbers kan uitsien na die eerste Rooibos T Fees wat op 30 Maart 2019 op Clanwilliam plaasvind. Hierdie fees bring hulde aan die kuns van Rooibos-verbouing en al die wonderlike produkte wat daarmee gemaak kan word. Feesgangers kan veral uitsien na meer as ’n 100 soorte tee wat by die geleentheid te proe sal wees.

 

Die fees beloof om iets vir die hele gesin te bied. Die Rooibos T Fees spog met die Rooibos Plaasmeisie- en -seunkompetisie. Ouers word genooi om hul kinders vir hierdie unieke kompetisie in te skryf.

 

Anders as in die geval van gewone skoonheidskompetisies, val die fokus hier op die natuurlike voorkoms en persoonlikheid van die deelnemers. Hoë hakke, grimering en strikdasse is dus glad nie wat vir die deelnemers die titel in die sak sal bring nie. Die jong deelnemers sal veel eerder ’n kans staan om as plaasmeisie en -seun bekroon te word as hulle gemaklik, kaalvoet en sorgvry vir die beoordelaars kom wys presies hoe oulik hulle is. Elke deelnemer ontvang dan ook ’n geskenkpak ter waarde van R100.

 

Kosfundi’s kan uitsien na ’n rits uitstallers wat gereed staan om hulle te wys presies hoe Rooibos in kos aangewend kan word. Unieke skeppings soos Rooibos-gemarineerde hoender, Rooibos-pannekoek en vele meer sal hier te eet aangebied word. Corli Botha, die gesig van Rooibos (moontlik gemaak deur Rooibos Beperk), sal ook kosdemonstrasies aanbied waar sy eerstehands sal verduidelik en wys hoe Rooibos tradisionele gebak en kookkuns kan vernuwe.

 

Asof dit nie genoeg is nie, bied die fees ook ’n werksessie aan waar besoekers kan leer hoe om Rooibos-en-boegoe-salf te maak. Hierdie oeroue plantgebaseerde salf is vandag nog een van die mees doeltreffende middels wat vir allerlei kwale gebruik kan word. Dit is dus noodsaaklik dat enige teeliefhebber weet hoe om só ’n salf voor te berei en aan te wend.

 

Rooibos Beperk is ’n trotse borg van hierdie fees en sien uit na ’n dag wat enige teeliefhebber se paradys gaan wees. Volg gerus ook vir Rooibos Beperk op Facebook (@RooibosLtd), Twitter (@RooibosLimited) en Instagram (@rooiboslimited) om die nuutste feesontwikkelinge te sien.

 

Die volle program is beskikbaar op Rooibos Info Hub se webtuiste by www.rooibosinfohub.com.

 

Kaartjies is beskikbaar deur Quicket. Daar is beperkte plek, so spring gou om teleurstelling te voorkom! Alle kaartjies wat voor die einde van Januarie 2019 gekoop word, is afgemerk met 15%.