Nuwe romantiese drama vir die grootskerm

Daniel maak gereed vir sy finale eksamens op universiteit. Met ’n spogmotor en ’n werk by ’n gevestigde firma wat vir hom wag, voel hy steeds ’n leemte binne hom. Hy voel gedwing om die konvensionele pad te loop en wil ook nie sy pa teleurstel nie. Hy raak verlief op Lisa en hul verhouding sit hom op die pad om homself te vind.

Hendrik Cronje, beter bekend as Lukas van 7de Laan, vertolk die hoofrol van Daniel. Hendrik het self die draaiboek geskryf, die regie behartig en saam met sy broer, Johan, die film vervaardig onder Kompanjie Stories. Jong aktrise Elani Dekker vertolk die rol van Lisa wat pas teruggekeer het huis toe nadat sy haar studies in Kaapstad voltooi het.

Kykers kan ook uitsien na ander bekende akteurs soos Zane Meas, Stian Bam en Crystal Donna Roberts in die rolverdeling. Liewe Lisa is ’n onafhanklike Afrikaanse film met geen finansiële ondersteuning van groot instansies nie. Ondersteun hierdie film en gaan kyk dit by jou naaste teater. Liewe Lisa word op Valentynsdag, 14 Februarie, landwyd vrygestel.