Indien jy nog nie een van die Piekniek en Musiek konserte by Zevenwacht in Kuilsrivier bygewoon het nie, weet jy nie wat jy mis nie. Die altyd uitverkoopte produksies bied jou darem nou die geleentheid om niemand anders as Theuns Jordaan, Snotkop en Tarryn Lamb by die laaste Piekniek en Musiek van die somer een verhoog te sien deel!

Maar jy sal moet wikkel – daar is slegs 150 kaartjies oor!

Die gewilde konsert, wat nie net ’n instelling onder die gereelde gehore is wat dit keer na keer bywoon nie, het met groot passie dit reg gekry om net die beste ekslusief-Afrikaanse top kunstenaars Kaap toe te bring – en dit nogal op die groen grasperke van Zevenwacht in Kuilsrivier waar jy en jou geliefdes heerlik piekniek kan hou of smul aan al die lekkernye wat deur die vele kostrokke voorsien word.

Piekniek en Musiek met Theuns Jordaan, Snotkop en Tarryn Lamb vind op Sondag, 3 Maart by die Zevenwacht wynlandgoed plaas. Kaartjies is deur Webtickets of Pick n Pay te kry teen slegs R185 per kaartjie. Toegang vir kinders tussen die ouderdomme 3 tot 12 kos slegs R85. Vir die baie jong aanhangers onder 3 is toegang gratis.

Die hekke sal om 13:00 op die Sondag open.

Vanaf 14:30 tot 15:30 sal Tarryn Lamb gehore bekoor.

Vanaf 16:00 tot 17:00 is dit die gewilde Theuns Jordaan se beurt.

Vanaf 17:30 tot 18:30 sal Snotkop die skare vermaak soos net hy kan.

Daar sal ’n verskeidenheid kostrokke, kroeë en piekniek-pakkies (wat vooraf bestel moet word) beskikbaar wees. Vir meer inligting oor die piekniek-pakkies, stuur ’n WhatsApp na 079 567 1122.

Geen kos of drank mag op die perseel gebring word nie – so kontant of kredietkaarte vir die kostrokke en kroeë word aangemoedig.

6 gratis bussies sal ook beskikbaar wees om diegene wat die stap wil vermy vanaf die parkeerarea na die piekniekgronde met vreugde te vervoer.

Rugleunings, stoele sonder pote en sambrele is welkom. Die sambrele moet egter tydens die vertonings af geslaan word. Geen hoë stoele, gazebos, of enige iets wat in die pad van aanhangers kan wees om nie die verhoog en kunstenaars te sien nie, word glad nie toegelaat nie.

Die meesterbrein en stigter van Piekniek en Musiek, Ian Bredenkamp, vertel: “Ek en my span het daarin geglo dat daar ’n hongerte in die Kaap was om die beste in Afrikaanse musiek te geniet. Met groot vreugde en dankbaarheid in ons harte was dit waar, want elke vertoning was nog uitverkoop tot dusver. Ons is saam met die mense jammer dat dit die laaste vertoning van die seisoen is – maar ons belowe, ons sal terug wees met nog groter en beter verrassings. Hou ons sosiale media gerus dop vir aankondigings!”

Bredenkamp sluit af: “Wat kan nou lekkerder wees as om die asemrowendste wynplaas by te woon met van die grootste name in Afrikaanse musiek. Moet dit nie mis nie – vra maar diegene wat keer na keer weer kom saam kuier!”

Vir meer inligting, besoek PiekniekenMusiek op Facebook.