Diegene wat goeie, gehalte Afrikaanse musiek waardeer kan hulself maar regmaak vir ’n nuwe gunsteling in die bedryf met Rita Li  van Centurion in Pretoria wie haar eerste enkelsnit,  Logiese Liefde (vanaf haar EP Inkleurboek), sopas vrygestel het.

Logiese Liefde, gebaseer op ’n gedig deur Christel van Heerden, is deur Rita Li haarself geskryf, tesame met Annie Curtin en Nadia Erasmus. Sy vertel: “Toe ek op die gedig afgekom het, het ek dadelik aan my man gedink. Hy is die ontleder, wiskundige en ‘brein’ in ons gesin en daar is nie ’n numeriese uitdaging wat te moeilik vir hom is nie – iets waaroor ek natuurlik self glad nie kan roem nie. Hy’s ook ons rots en steunpilaar…vandaar die woorde ‘my basis, my hoogte, my lengte, my breedte’. Met díe agtergrond sal die liedjie nou veral sin maak.”

Rita Li sê dat sy so geïnspireer was deur die gedig en Paul (haar man) se karaktereienskappe wat sy so bewonder, dat die liedjie binne 45 minute klaar geskryf was. “Ek moet bieg dat wanneer my regterbrein inskop, is dit soms baie frustrerend om Paul se linkerbrein te verstaan. Dan herinner ek my daaraan dat hy ons rots is,” brei sy gretig uit.

Tans is daar ’n lirieke video van Logiese Liefde – besoek https://www.youtube.com/watch?v=Vl_fov8XFV0.

Die ander kleure van Rita Li wat te sien is op haar EP, Inkleurboek

Diegene wat verlief gaan raak op Logiese Liefde, gaan net so versot wees op die ander snitte op haar EP, insluitende die titelsnit, Inkleurboek. 

Inkleurboek gaan oor ’n plaasmeisie se eerste liefde in die groot stad. Sy was ’n koshuiskind en het naweke plaas toe gegaan. Dit was nie aldag dat ’n kêrel die ‘ja’ van haar ouers gekry het om saam soontoe toe te gaan nie. Hier het hulle dan wonderlike herinneringe gemaak; van in die veld hande vashou, tot daardie eerste soen in ’n grot, en soveel meer. Hierdie liefdesverhouding groei dan deur die jare tot hulle uiteindelik trou. Daarom ‘Inkleurboek’ – amper soos ‘storieboek’ met metaforiese kleure van hoe hul mekaar se lewens ingekleur het.”

Rita Li vertel verder dat die lied almal daaraan moet herinner om mekaar op die verskillende stadiums van hul lewens te waardeer, en altyd die mooi en goeie kleure van die lewe uitdeel om sodoende ander se lewens so mooi as moontlik in te kleur.

Rita Li sê dat al vyf liedjies wat op haar EP verskyn, uniek op sy eie manier is, asook uit verskillende genres. Nadat sy oor ’n paar maande haar tweede enkelsnit vrygestel het, beplan Rita Li dan om ’n splinternuwe, volledige album voor 2020 beskikbaar te stel.

Daar is ook ’n musiekvideo vir Inkleurboek beskikbaar wat in Bapsfontein met Rita Li se eie perde kinders en van haar vriende se kinders geskiet is (besoek https://www.youtube.com/watch?v=6U0BpMr1TYI).

Rita Li – van plaasmeisie tot fisioterapeut en nou soveel meer 

Net soos die meisie in Inkleurboek, ken Rita Li van plaasmeisie wees. As die oudste van drie kinders, het sy na haar geboorte (2 Junie 1986) op ’n kersie- en melkplaas in Clocolan in die Oos-Vrystaat groot geword, waar haar ouers nogsteeds op hul plaas Constantia boer. Rita Li (32) het ’n sussie (30) wie ’n arbeidsterapeut is en ’n broer (22) wie tans landbou ekonomie aan die PUK studeer.

Rita Li is self geleerd as ’n fisioterapeut en het haar suksesvolle praktyk van 10 jaar se deure in 2018 gesluit om op haar sangloopbaan te fokus. Sy vertel: “Vir ’n dekade het ek my hart en siel in my praktyk uitgestort en was so geseënd met die mense wie ek leer ken het. Dit het my ’n jaar geneem om uiteindelik oor te gee aan iemand anders omdat ek so lief geraak het vir elke pasiënt. Maar dis nou geskiedenis, want dit was die pad wat vir my beplan was. Wanneer jy weet die Groter Hand is in beheer is dit eintlik so maklik. Ek mis wel die gesprekke, want wanneer iemand vir behandeling gekom het, het hulle jou in hul persoonlike spasie en hart toe gelaat.”

Wat musiek betref, het Rita Li se liefde daarvoor al vroeg-vroeg begin toe sy op die ouderdom van 3 jaar met klavierlesse en dansklasse begin het. Sy het die afgelope 13 jaar meestersklasse in klassieke sang ontvang by die bekende liedjieskrywer en kabaret-kunstenaar, Gisela de Villiers.

Sy vertel dat beide kante van haar ma en pa se familie baie musikaal was. “My ma kon baie goed klavier speel en dans, en my pa was ’n trompetspeler vir die Vrystaatse Simfonie Orkes. Dan het ek boonop ook ’n oom wat 14 instrumente kan speel. My sussie sing ook baie mooi en kan klavier en viool speel en my boetie weer dromme en kitaar. So inderdaad – musiek is in die bloed!”

Rita Li is op 23 getroud met Paul Cronjé op hul eindste familieplaas en hulle is die trotse ouers van ’n pragtige twee-jarige seuntjie, Charl. Paul is ’n meganiese ingenieur en ook die eienaar van ’n 3D-druk winkel wat projekte beide plaaslik en internasionaal behartig.

Leer Rita Li beter ken

Rita Li beskryf haarself as propvol energie, ’n emosionele ekstrovert, avontuurlustig, “gevaarlik” positief, mal vir enige sport, familievas, diep afhanklik van God, en op die ou einde “’n plaasmeisie met groot stadsdrome”.

Sy beskryf haar filosofie in die lewe: “Wees nederig en luister na ander – jy gaan altyd iets leer. Moet nooit ooit opgee nie, glo heelhartig, droom groot en wees lief – onvoorwaardelik! Droom, hoop en glo…”

Vir Rita Li was die geleentheid om die Stem vir Suid-Afrika voor ’n paar duisend mense te sing sonder twyfel ’n hoogtepunt sover. “Ek is so trots op en lief vir ons land en dit het my hoendervleis gegee om hierdie te kon doen!

“My groot droom is om te sing en sing en sing – sommer op elke plek in die land. Ek sal ook deur my voorbeeld ’n goeie ambassadeur vir Suid-Afrika wil wees en daardeur ’n inspirasie vir ander wees. En natuurlik…ek moet mos eendag op die Afrikaans Is Groot se verhoog sing!”

Haar rolmodelle is haar ouers, oor “hulle deursettingsvermoë, hardwerkendheid en manier om nooit op te gee nie”. Haar gunsteling kunstenaars is Katherine Jenkins en Elvis Blue. Sy verduidelik: “Hy is so ongelooflik musikaal en ’n wonderlike kunstenaar wat dit so maklik laat lyk!”

Vyf prettige feite oor Rita Li sluit in:

  • Sy is gek oor suurwurms-lekkers!
  • Sy is ’n ewige waaghals en bang vir niks;
  • Sy is glad nie sentimenteel nie;
  • Daar is altyd ’n projek in elke afdeling van haar lewe waarmee sy besig is;
  • En wanneer sy op die verhoog is kom haar “alter-ego” uit.

Wat aanhangers verder oor Rita Li sal verras is dat haar kos glad nie aan mekaar mag raak nie, sy is mal oor bad en hou nie van stort nie, sy is nie ’n oggend of ’n aandmens nie en funksioneer die beste tussen 9vm en 3nm – behalwe as sy ’n vertoning het. “Dan is ek so vol energie dat ek nie kan slaap van opgewondenheid en adrenalien nie,” sê sy.

Rita Li sluit af: “Ek sal graag eendag onthou wil word as ’n vrou wie haar drome met alles nagejaag het en vir diegene wat in hulself twyfel ’n voorbeeld kon wees van droom, hoop, glo en doen. Ek hoop ook mense sal my onthou as ’n dinamiese dog sagte, nederige vrou wie se God, gesin en familie haar belangrikste fokus was. Ek wil iemand wees wat ander help om uit die seer van die lewe te kom en iets daadwerkliks daaraan doen om te help dat hul in hulself glo.”

Kry meer van Rita Li so…

Rita Li se musiek is nou op alle gewilde musiekplatvorms beskikbaar, insluitende iTunes en Google Play.

Vir meer inligting, besoek haar webblad by www.ritali.co.za. Gesels ook saam op sosiale media – Facebook (Rita Li Musiek) en Instagram (@RitaLiMusiek).