Connect with:
Thursday / November 21.
HomeFeeste14de Leipoldt Kuier beloof ’n dag gevul met pret en genot vir die hele gesin

14de Leipoldt Kuier beloof ’n dag gevul met pret en genot vir die hele gesin

Na ’n nederige begin dertien jaar gelede is die Leipoldt Kuier vanjaar terug en beloof om nóg groter en beter te wees as voorheen. Trek jou dagboek nader en maak ’n nota, want op Saterdag, 10 Augustus trek die hele gemeenskap saam vir die grootste kuier op Leipoldtville, en jy kan deel wees daarvan.

Hierdie gewilde fees het in 2005 ontstaan toe ds. Gideon Basson van die NG Kerk Leipoldtville besluit het om iets spesiaal te doen vir die kerk se eeufeesviering. Die fees het aanvanklik ’n beskeie begin gehad totdat die gemeente besluit het om die viering ’n jaarlikse instelling te maak en dit in ’n behoorlike fees te verander.

Vanjaar se feestelikhede skop reeds die Vrydag af met ’n vroueoggend met die talentvolle aktrise en skrywer Milan Murray as gasspreker. Die geleentheid word by die NG Kerk Leipoldtville aangebied en die program skop om 11:00 af. Die tema is “Something floral”. Kaartjies is beskikbaar teen R220 per persoon en dit sluit ’n ligte ete in. Jy kan vir Mari skakel by 083 231 2000 om jou kaartjies te bespreek.

Op Saterdag, 10 Augustus skop die program reeds om 10:00 af met ’n voertuig-optog deur die Nuts en Bolts-groep, wat vanjaar vir die eerste keer deel is van hierdie grootste kuier op Leipoldtville. Allerlei kleurvolle, vreemde en unieke voertuie sal deel wees van hierdie prosessie, wat omtrent ’n lus vir die oog sal wees. Daarna volg ’n dag propvol lekker aktiwiteite en optredes deur top-kunstenaars soos Jay du Plessis, Demi Lee Moore, Fatman, Jezelle, Bianca Willemse en Dobbelsteun. Vanjaar se Leipoldt Kuier beloof om weer ’n hoogtepunt vir die dorp, sy inwoners en besoekers te wees. 

Daar gaan allerlei stalletjies wees met tuisgebak soos vanuit jou ouma se kombuis, opveiltafels, hope pret vir die jongspan, trekkerritte, smullekker kos en wyn en nog vele meer aktiwiteite om oud en jonk besig te hou. Indien jy belang stel om ’n stalletjie te bespreek, kan jy gerus vir Elsabe Carstens kontak by bolangvlei@mylan.co.za.

Een van die hoogtepunte by die jaarlikse Leipoldt Kuier is die veiling wat om 12:00 sal afskop waar besoekers die kans kan waag om allerlei interessante artikels aan te skaf.

Kaartjies vir die Leipoldt Kuier sal op 10 Augustus by die ingang van die feesgronde beskikbaar wees. Kaartjies is R120 vir volwassenes en kinders ouer as 12 jaar. Die jongspan kan ook kom deel wees van die feestelikhede met kaartjies vir kinders tussen 3 en 12 jaar oud wat slegs R50 beloop. Toegang vir pensionarisse ouer as 70 (met ID) en kleuters onder 3 jaar oud sal gratis wees.

Bly op hoogte van die jongste Leipoldt kuier-nuus op Facebook (https://www.facebook.com/LeipoldtKuier/) en Instagram (instagram.com/leipoldtkuier/). Besoek ook ons webtuiste by  http://leipoldtvillefees.co.za om meer te lees.

 

Vir navrae, kontak: Elsabe Carstens                                             

E-pos: bolangvlei@mylan.co.za

Tel: 083 225 6536