Connect with:
Saturday / December 7.
HomeFeeste14de Leipoldt Kuier op Leipoldtville groter as ooit

14de Leipoldt Kuier op Leipoldtville groter as ooit

Na dertien suksesvolle feesjare is die Leipoldt Kuier terug vir ’n veertiende keer en groter as ooit tevore. Die Leipoldt Kuier vind plaas op Saterdag, 10 Augustus, wanneer die gemeenskap en feesgangers van omliggende dorpe bymekaar kom vir ’n lekker kuier op Leipoldtville.

Die gewilde fees het in 2005 ontstaan toe ds. Gideon Basson van die NG Kerk Leipoldtville besluit het om iets spesiaal te doen vir die kerk se eeufeesviering. Die fees het aanvanklik ’n nederige begin gehad totdat die gemeente besluit het om die viering ’n jaarlikse instelling te maak en dit in ’n behoorlike feestelikheid te verander.

Met die afwagting vir die joligheid oor die naweek van 10 Augustus kan die dames al hul vriendinne nooi vir ’n oggendtee wat op Vrydag 9 Augustus by die NG Kerk Leipoldtville aangebied word. Die program skop om 11:00 af met bekende aktrise en skrywer Milan Murray as gasspreker vir vanjaar se oggendtee. Kaartjies vir die geleentheid is beskikbaar teen R200 per persoon, ’n ligte ete sal bedien word en die tema is “Something Floral”. Jy kan vir Mari skakel op 083 231 2000 om jou kaartjies te bespreek.

Saterdag se program skop reeds om 10:00 af met ’n veteraan-optog en daarna volg ’n dag gevul met optredes deur top-kunstenaars soos Jay du Plessis, Demi Lee Moore, Fatman, Jazelle, Bianca Willemse en Dobbelsteun. Vanjaar se Leipoldt Kuier beloof om weer ’n hoogtepunt vir die dorp, sy inwoners en besoekers te wees.

Daar gaan allerlei stalletjies wees met tuisgebak soos vanuit jou ouma se kombuis, opveiltafels, hope pret vir die jongspan, trekkerritte, smullekker kos en wyn en nog vele meer aktiwiteite om oud en jonk besig te hou. Indien jy belang stel om ’n stalletjie te bespreek, kan jy gerus vir Elsabe Carstens kontak by bolangvlei@mylan.co.za.

Een van die hoogtepunte by die jaarlikse Leipoldt Kuier is die veiling wat om 12:00 sal afskop waar allerlei interessanthede aangebied gaan word.

Kry jou kaartjies vir die Leipoldt Kuier op 10 Augustus by die ingang van die feesgronde. Daar is soveel om na uit te sien! Kaartjies is R100 vir volwassenes en kinders ouer as 12 jaar. Die jong span kan ook kom deel wees van die feestelikhede met kaartjies vir kinders tussen 3 en 12 jaar oud wat slegs R50 beloop. Toegang vir pensionarisse ouer as 70 (met ID) en kleuters onder 3 jaar oud sal gratis wees.

Bly op hoogte van die jongste Leipoldt kuier-nuus op Facebook (https://www.facebook.com/LeipoldtKuier/) en Instagram (instagram.com/leipoldtkuier/). Besoek ook ons webtuiste by  http://leipoldtvillefees.co.za om meer te lees.