Vandat hy kan onthou oefen hy sy handtekening vir daardie “eendag” wat sy musiek in ’n album-baadjie kan pronk. Wel, eendag en vandag het pas sinoniem geword met die bekendstelling van Elandré se lang verwagte debuut-album, Kleindorp-dromer!

Die toe 21-jarige van Despatch in die Oos- Kaap het in November 2016 die verrassing van ’n leeftyd gekry toe Select Musiek se Ernst Kleinhans hom tydens ’n regstreekse optrede op Bok Radio 98.9 FM en Bok TV ’n platekontrak aangebied het. Maande se harde werk later is die eindproduk – ’n album wat 13 snitte in Afrikaans en Engels beslaan – op die rakke, en sommer so met die intrapslag is dit duidelik dat gróót dinge vir hierdie jong talent beskore is.

Elandré se bariton-stem het ’n eiesoortige rykheid en diepte, terwyl dit dikwels ook ’n indrukwekkend hoë register verken en ewe gemaklik met pop, rock, country en meer alternatiewe geure saamsmelt. Sy debuutstuk is een met ’n vrye gees – patrioties, selfondersoekend, poëties, romanties, verenig met die amperse sorgeloosheid van jeug.

Klik hier om Kleindorp-dromer vooraf op iTunes te bestel.

Van die hoër tempo Afrikaans sal blyPlek sonder naam en Honderd duisend maal tot by rustiger snitte soos Die lynStilte voor die storm en Skadu’s teen my muur is dit nie die musiek van “gister se kind nie”, en die lirieke van sy nuutskeppings getuig van gedagtes en emosies wat ’n geruime tyd sorvuldig geslyp is om uiteindlik hul uiting in musiek te vind.

Die meer speelse country geur van Forever  – sowel as dekweergawes van countrynommers soos Josh Turner se Your manTonight I climbed the wall van Alan Jackson en ’n goeie dosis rock met Tougher than the rest van Bruce “The Boss” Springsteen – stel Elandré se musikale veelsydigheid uitstekend ten toon en laat geen twyfel oor waarom hy een van Suid-Afrika se mees in-aanvraag jong kunstenaars vir lewendige optredes is nie.

Kyk die musiekvideo van Afrikaans sal Bly hier:

“Hierdie is gróót. Dis ’n droom wat ek al baie lank, sedert my kinderdae, droom”, sê Elandré.

“Dis vir nou ’n totaal surrealistiese ervaring – amper asof my hart en brein dit nie als op een slag kan inneem nie. Ek is elkeen wat ’n rol gespeel het om my op hierdie koers te bring en te hou innig dankbaar en dra hierdie album aan elkeen van hulle op – bowenal aan die Een waarsonder nie een van ons sou kon doen wat ons doen nie. Soos die lirieke van die laaste snit op die album sê: ‘Onthou jou lig en Wie se kind jy is.’”

Die album sal die winkelrakke tref op 25 Augustus.