Connect with:
Monday / December 9.
HomeKollig7 de Laan se ‘Thomas’ het op dertien reeds die wêreld aan sy voete

7 de Laan se ‘Thomas’ het op dertien reeds die wêreld aan sy voete

Die multitalentvolle Vian Singleton, graad 8-leerder aan Helpmekaar Kollege, is om die minste te sê, glad nie jou alledaagse tienerseun nie. Hy is op nege al in Hollywood aangewys as junior akteur en model van die jaar! En dis net een van sy vele prestasies.

Jeanne-Mari Van Eeden van www.sterre.co.za praat met hom oor sy lewe in die kollig.

Wanneer het jy jou passie vir drama ontdek?

“In 2015, toe ek nege was, het ek aan ’n internasionale talentkompetisie in Hollywood deelgeneem. Ek is aangewys as junior akteur van die jaar en ook junior model van die jaar. Hulle het ons hier geleer oor sosiale media en hoe om vir jou ’n professionele kunstenaarsprofiel op te stel. Terug in Suid Afrika het ons begin werk maak daarvan en ek het ’n agent, Talent-ETC, gekry en vir oudisies begin gaan.”

Jy het al groot naam gemaak in Suid-Afrika, maar jy was ook al in ’n internasionale fliek! Vertel my meer van jou lewensreis tot waar jy vandag is?

“Ek was gelukkig om gekies te word vir die Sunfoil TV-advertensie saam met die Protea-krieketspelers, wat steeds tydens krieketwedstryde uitgesaai word. Hierna het ek my eerste filmrol losgeslaan as die jog ‘Dap’ in die oorlogfilm, My Father’s War. Dit was ’n voorreg om saam met Stian Bam, Edwin van der Walt en Erica Wessels hieraan te werk en ’n lekker avontuur. Kort hierna het ek ook my eerste rolletjie in ’n internasionale fliek, Resident Evil – the Final Chapter – losgeslaan en die geleentheid gehad om in die Kaap saam Milla Jovovic hieraan te skiet – wat ’n belewenis! Die Amerikaners doen beslis dinge GROOOOT! 

“Tussendeur hierdie projekte is ek ook gekies om ’n nuwe klerereeks vir Land Rover te help bekend stel – wat is nou beter as om op lekker harde musiek in mooi klere rond te loop? ’n Baie goeie vriend het op ’n dag vir my ’n Facebook-advertensie gewys van ’n landwye soektog vir ’n seun om die rol van die jong Benjamin Komoetie teenoor Shaleen Surtie-Richards te speel in die baie bekende teaterproduksie, Fiela se Kind. 

“Dit was onmiddellik vir my ’n lekker nuwe uitdaging om meer oor teater te leer en ek het die teks voorberei en vir die oudisie gegaan. Ek is die rol aangebied en het saam met die produksie landwyd en na Namibië getoer en in van die land se mooiste teaters opgetree. Hiervoor het ek die BroadwayWorld South Africa-toekenning ontvang as beste akteur in ’n ondersteunende rol in ’n teaterproduksie, ’n groot eer waarop ek baie trots is. 

“’n Ander projek waarvoor ek gekies is, was as aanbieder van die opvoedkundige TV-program: The Epic Hangout op SABC2 waar ek as ‘Techno Whizz’ saam met Clementine Mosimane gewerk het in seisoen 1 van hierdie program. Ek moes egter hier afskeid neem toe ek na verskeie oudisies die rol van Thomas in 7de Laan aangebied is. Dit is hier waar ek regtig die fynere kunsies van TV en kamerawerk aangeleer het by ’n familie van wonderlike akteurs by wie ek elke keer op stel iets nuuts byleer. Ek geniet 7de Laan verskriklik en dit hou my passie lewendig.”

Televisie, teater of albei? Hoekom?

“Sjoe, dis ’n moeilike een….ek gaan eerder nie kies nie.

“Met verhoogwerk en teater is daar geen tweede kanse nie en as iets skeefloop of anders as beplan gebeur, moet mens op jou voete dink en dit maak die uitdaging soveel groter en laat die adrenalien nogal vloei. Mens moet ook ‘groter’ speel, sodat die ou oom heel agter in die teater, ook jou emosie kan lees en voel.

“TV is weer lekker in die opsig dat dit baie gestruktureerd en gedissiplineerd is. Daar is meer kamerahoeke en tegnieke om mee rekening te hou en natuurlik ’n groter gehoor. Elke toneel is vars en nuut en kan geskaaf en “re-take” word totdat dit perfek is.

“Ek hou dus baie van altwee fasette.”

Waarmee is jy tans besig?

“My eerste jaar in die hoërskool is ’n absolute avontuur sover is dit vreeslik besig. Ek het die jaar afgeskop met die atletiekseisoen, gevolg deur rugby, tienertoneel, redenaars en balanseer die akademie ook tussenin. 7de Laan het my ook tydens die vakansie besig gehou met die verfilming van Thomas se eerste storielyn waarop ek baie trots is. Loer gerus van 20 Junie op SABC2 net op 7de Laan.”

Na watter projekte sien jy die meeste uit in 2019? 

“Ek is onlangs aangewys as ’n ambassadeur vir Afrikaans deur Afrikaans.com en wil graag ’n verskil maak en aan jongmense wys hoe daar wel ’n toekoms is vir almal wat bereid is om hard te werk in Afrikaans. Ek was bevoorreg om deur te dring na die ATKV se landwye eindronde vir redenaars wat in Augustus by Goudini Spa plaasvind en glo dit hou my skerp. 

“Dan is ek ook ’n lid van die geselskap wat die Helpmekaar Kollege Tienertoneel “Fiasko” gaan opvoer tydens verskeie kompetisies. Ek geniet 7de Laan verskriklik en ons is almal nuuskierig om te sien hoe Thomas sekere tieneruitdagings gaan hanteer met sy nuwe storielyn wat voorlê. Daar is ook ’n moontlikheid dat ek binnekort deel van die program Klink soos Naweek gaan wees op VIA TV, kanaal 147.”

Enige raad vir ander jongmense wat ook graag in die bedryf wil werk?

“Wees nederig, droom groot, werk hard en onthou – aanhouer wen. Moet nooit negatief raak as jy bv. nie gekies word vir ’n oudisie nie. ‘’n Akteur word nie onthou vir die rol wat hy nie kry nie, maar eerder vir die rol wat hy wel gekry het en fantasties vertolk het! “

Wat is jou motto?

“It’s nice to be cool, but it’s much cooler to be nice.”- Vian Singleton