Connect with:
Tuesday / June 2.
HomeInnoveerderAdriaan se vyf superwenke vir atlete

Adriaan se vyf superwenke vir atlete

Adriaan Myburgh is ’n Suid-Afrikaanse onder 23 elite driekamp-atleet en ook ’n Instagram-ambassadeur vir die digitale agentskap Lightspeed Digital Media. Adriaan is deel van die indrukwekkende Sterkspan-akademie waar van Suid-Afrika se voorste atlete vir internasionale sportbyeenkomste afgerig word.

GJ van Schalkwyk van www.sterre.co.za het met Adriaan gesels en het 5 superwenke gekry wat jong atlete in gedagte kan hou:  

Die eerste is “passie”: “’n Uitblinker-atleet geniet wat hy doen en daarmee saam kan hy of sy sport aanhou beoefen vir so lank as wat hy of sy dit wil doen.”

’n Aanhouer met ’n gefokusde houding sal altyd wen: “’n Atleet moet gefokus bly op sy doelwitte  en sy waardes en moet alles in sy vermoë doen om dit te bereik. Omstandighede mag dalk verander en nuwe uitdagings (soos beserings) skep, maar dan moet jy steeds moed hou en slim aan oplossings dink om die uitdagings te oorkom.”

Vertroue en geloof: “’n Uitblinker-atleet moet volle vertroue hê in sy voorbereiding vir byeenkomste en weet dat hy of sy alles korrek moet doen om goeie resultate te lewer. As ’n Christen glo ek ook dat die Here ons krag gee en dat ’n atleet sy gegewe talente moet uitoefen tot sy volle vermoë.”

Mededingende voordeel: “’n Atleet wat wil uitblink, moet kan verstaan en weet dat hy of sy sekere kompromieë in ’n normale lewenstyl moet aangaan. Ontwikkel ’n mededingende voordeel bo jou teenstanders met doeltreffende tydsbestuur en slim leefstylkeuses.”

Geduld: “Rome is nie in een dag gebou nie en ’n uitblinker-atleet ook nie. ’n Atleet moet geduldig wees en bereid wees om oor jare te leer, sterk te word, te groei as ’n atleet en ook nederlae te ly, voordat resultate sal ontstaan.”

Adriaan se passie is aansteeklik en ons gaan hom beslis dophou in die toekoms. Een van sy borge is die Franse sportbril vervaardiger www.julbo.com.

Loer gerus na ons foto-storie oor Adriaan se passie hier:  http://bit.ly/adriaanm