Connect with:
Friday / April 19.
HomeEventsAiG kondig die hoofborg van 2019 aan

AiG kondig die hoofborg van 2019 aan

AiG kondig die hoofborg van 2019 aan

Afrikaans is Groot (AiG) het tydens ’n mediakonferensie vandag aangekondig dat “die gemeenskap die hoofborg van die Afrikaans is Groot-vertonings gaan bly”. Daarom loods AiG saam met Helpende Hand die #JouAiG-veldtog en plaas intrinsieke klem op die eienaarskap wat kaartjiehouers in die AiG-ervaring het.

Die #JouAiG-veldtog is ’n inisiatief wat deur die direksie en kunstenaars van Afrikaans is Groot
en Helpende Hand gedryf word om vir die publiek as individue, groepe of besighede die geleentheid bied om as ’n amptelike hoofborg van die konsert in te tree.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand, het die veldtog bestempel as ’n gemeenskapsinisiatief. “Jou Afrikaans is Groot! Maak nie saak waar jy die klem plaas in die
sinsnede nie, jy lig JOU eienaarskap van Afrikaans en hierdie puik inisiatief uit”, het Noëth gesê.
Volgens Noëth het Helpende Hand die inisiatief voorgestel aangesien die welwillendheidsorganisasie amptelik as begunstigde van die AiG konserte aangewys is en as gemeenskapsorganisasie nou graag deur sy lede terug wil ploeg in AiG.

’n Eksklusiewe vertoning, genaamd #JouAiG, word vir 28 November 2019 geopen waar 6000 kaartjies teen R800 aangebied sal word. Elke kaartjie wat verkoop sal dien as ‘n bydrae tot die bestaan van AiG en elke kaartjiehouer van dié konsert sal ’n hoofborg van die konsert wees. Winste van die aand word ook aan Helpende Hand bemaak.

Elke hoofborg se naam sal op die skerms by die konserte vertoon word en in ’n spesiale AiG 2019 program verskyn. Hoofborge se name sal ook deel vorm van die Afrikaans is Groot handelsmerk. Kaartjies vir die #JouAIG-vertoning van sal van 29 Maart om 10:00 by Computicket (bit.ly.AiG2019) te koop wees.

Groepe en besighede sal ook as hoofborg kan intree deur om kaartjies vir die #jouAiG-vertoning te koop en dan vir Afrikaans is Groot by info@afrikaansisgroot.co.za te laat weet hoe hulle naam gelys moet word.

Volgens die direksie van AiG is die vertonings gebore uit ’n gees van trots vir die Afrikaanse taal, kultuur en gemeenskapskrag en het die handelsmerk ’n kontrak met die publiek om hierdie gees uit te brei. “Ons kan net met groot dankbaarheid die borge bedank wat gehelp het om oor die jare van AiG ’n groot sukses te maak. Elke persoon wat ’n kaartjie koop bly egter steeds individueel ook 'n borg van AiG en maak ’n unieke bydrae tot hierdie skouspelagtige kultuurgeleentheid”: het Barry Pretorius, vervaardiger en regisseur van AiG, gister in Pretoria gesê.

Volgens Pretorius staan Afrikaans is Groot elke jaar op die skouers van sy kaartjiekopers en
bou die organisasie elke jaar voort op sy verhouding met die publiek wat toustaan om kaartjies te koop. AiG het sedert 2012 meer as 592,000 konsertgangers met 83 vertonings in Pretoria en Kaapstad gedien.

Die publiek word ook genooi om hulle ondersteuning te beken deur om saam met AIG- kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Riana Nel, Jay, Demi Lee Moore en Karlien van Jaarsveld die #JouAIG-plegverklaring aanlyn by www.jouaig.co.za te onderteken. Sms ook die woord "JouAiG" na 39950 (teen R2) om só te maak.

Afrikaans is Groot 2019 vind plaas tussen 22 November en 1 Desember, by die Sun Arena by Time Square in Pretoria en daar kan uitgesien word na van ons land se grootste kunstenaars soos, Theuns Jordaan, Bok van Blerk, Jay, Corlea, Bobby van Jaarsveld, Elvis Blue, Tarryn Lamb, Dewald Wasserfall, Ricus Nel, Snotkop en Ruhan du Toit. Karen Zoid is ook vanjaar weer terug. Oudergewoonte sal daar ook ‘n paar verrassings wees.

Kaartjies is slegs by Computicket, aanlyn of by Shoprite/Checkers en House & Home-winkels,
beskikbaar. Die publiek word gewaarsku om waaksaam te wees teen derde partye wat kaartjies
aanbied.