Connect with:
Saturday / September 21.
HomeAgri-nuusALFA 2019 stel verskillende fasette van veebedryf voor

ALFA 2019 stel verskillende fasette van veebedryf voor

Die plaaslike veebedryf is sonder twyfel een van die grootste segmente van die Suid-Afrikaanse landboubedryf. Dit is die oudste én een van die mees winsgewende sektore in landbou en ook een van die mees stabiele sektore wat boere op plase hou te midde van ekonomiese druk en die natuur se invloed.

Die fokus van ALFA, wat van Dinsdag 17 September tot Donderdag 19 September by die Afridome-skougronde in Parys gehou word, is op vee gerig en daar is vier pilare wat die projekte en aktiwiteite wat by die ekspo aangebied word, ondersteun. Dit sluit in doeltreffende veeproduksie, jeug in landbou, veehandel en sosiale interaksie.

Geleenthede soos dié bied die geleentheid vir die uitruil van kennis, skep ’n platform vir die oordrag van tegnologie en vestig ’n handelsplatform om die verskaffer en koper bymekaar te bring.

ALFA is ’n handelsekspo wat die verskillende fasette van die veebedryf voorstel en sy waardekettings vanuit ’n handels- en tegnologiese perspektief aanbied. 

“Dis ’n handelskou vir landbou waaraan landbouers deelneem, so ons fokus is baie sterk op enigiemand wat werk in landbou en enigiemand wat ’n belang in die veebedryf het,” vertel Albert Loubser van Plaas Media, medeorganiseerder van ALFA, in ’n onlangse onderhoud op Grootplaas.

Verskeie veekompetisies sal by ALFA 2019 aangebied word en sluit veerasse in wat onder die Diereverbeteringswet, 1998 (Wet 62 van 1998) erken word, waaronder ‘n aantal vleis- en melkbeeste, vleis- en wolskape, melk- en vleisbokke, varke en braaikuikens.

  Die Hinterland Nasionale Interrasvleisbeeskampioenskap, wat op 19 September by die ekspo plaasvind, is altyd ‘n hoogtepunt op die ALFA-kalender en vanjaar is geen uitsondering nie. “Dis waar die grootste veeskoue in die land se interraskampioene bymekaar kom sodat ons dan die nasionale manlike en vroulike interraskampioene kan kroon. Daar is ongelooflike kampioene hierdie jaar op pad ALFA toe,” voeg Loubser by.

Vir meer inligting oor Hinterland en hul produkte, dienste en promosies, besoek gerus hul webwerf by www.hinterland.co.za.

Jy kan ook Hinterland op Facebook (@Hinterland), Twitter (@Hinterland_SA), Instagram (@hinterland_sa) en LinkedIn (@Hinterland SA) volg om op hoogte te bly van die nuutste nuus.