Connect with:
Wednesday / October 16.
HomeArtikelsArmand klim die suksesleer al singend uit

Armand klim die suksesleer al singend uit

Die 19-jarige Armand van Niekerk glo mens moet altyd die goeie in die lewe raak sien. En dit is juis dié positiewe houding wat hom gelei het tot die sukses wat hy vandag proe. Hy het pas sy eie liedjie, Ek Kan Nie Sonder Jou Nie, vrygestel.

Vicki Rothman van www.sterre.co.za het met hom gesels.

Armand, wat tans met sy eerste jaar in Besigheidstudies by Prestige Akademie besig is, het in graad 11 sy passie vir sang herontdek na hulle vir drie jaar in Namibië gebly het. Hy vertel hy het gedurende hul tyd in Namibië glad nie aan ’n sangloopbaan gedink nie en sy grootste belangstellings was fietsry en tennis.

“Ek het graag musiek geluister en saam gesing, maar toe ons eers terug is in Suid-Afrika het ek met sangklasse begin,” het hy vertel.

Hy het in dieselfde jaar aan ’n dramaproduksie met die titel, uit Uit Diep en Donker Nagte, waarin hy die rol as ’n soldaat tydens die lewe van Luther, vertolk het. 

“Ek skryf graag oor gebeure in my eie lewe wat ek aan ander wil oordra deur my musiek en deur motiverende boodskappe te deel, vertrou ek dat ek mense sal inspireer sodat hulle ook glo dat hul lewensdrome kan waar word,” het hy vertel.

Volgens Armand het hy gelukkig grootgeword en sy ondersteunende ouers het hom geleer om altyd in homself te glo. 

“Ek sien elke dag as ’n uitdaging om my talente uit te brei sodat ek in die toekoms suksesvol kan wees.”

Vra jy hom uit oor waar hy homself oor tien jaar sien, is sy antwoord duidelik: 

“Ek sien myself as ’n suksesvolle sanger en bekwame sakeman in die musiekbedryf. Die doelwitte wat ek vir myself gestel het, moet in die volgende tien jaar afgehandel wees.”

 

Hy wil graag sy eie platemaatskappy hê – met sy eie studio en by gesogte produksies soos Afrikaans is Groot en Krone optree. 

“Ek wil ook ten minste drie albums op die rakke hê met ses musiekvideo’s wat meer as 1 miljoen kyke op YouTube het.”

Armand het vertel dat sy raad aan jongmense soos hy is om hul belangstelling te identifiseer, doelwitte binne bereik op te stel en hul drome na te jaag.

“Jy moet eers die trappe bou om bo te kom voordat jy die hysbak kan gebruik.”

Met dié houding gaan Armand nie net die trappe van die suksesleer klim nie, hy gaan dit sommer in sy hysbak aandurf.

Luister na Ek Kan Nie Sonder Jou Nie hier: https://www.youtube.com/watch?v=WFwlRkCUps0.