Connect with:
Saturday / September 21.
HomeMusiekAtlantiseers se nuwe enkelsnit, Ek Weet, sal hartsnare roer

Atlantiseers se nuwe enkelsnit, Ek Weet, sal hartsnare roer

Atlantiseers, die Afrikaanse Indie-groep van Johannesburg, se debuutalbum, Verhoudingspolitiek, handel oor die verskillende fases van ’n verhouding en hul nuwe enkelsnit getiteld, “Ek Weet”, vertel die storie van die eerste paar weke nadat ’n verhouding tot ’n einde gekom het.

Kan ek my oë glo
Hou hy jou hand vas
Nie eers ’n maand nie
Is dit wat dit vir jou was

Beïndruk hy jou so
Julle praat in retoriek
En dat jy hom glo
Maak my ’n klein bietjie siek

“Die hele album is gebou rondom die verloop van ’n enkele verhouding. Die album skop af aan die begin van ’n wonderlike nuwe liefde, en in Ek Weet tel ons die storie op in die eerste weke nadat die verhouding tot ’n einde kom. Ander snitte ondersoek weer verskillende fases van die aanvaarding daarvan. Dit gaan van smeek en rou na bitterheid en woede, maar ná ’n lang proses is daar teen die einde aanvaarding, soos wat deur die laaste liedjie op die album weerspieël word,” vertel sanger en liedjieskrywer, Adrio van der Walt, Atlantiseers se voorman.

In Ek Weet gaan die luisteraar saam met die protagonis deur een van die mees traumatiese oomblikke na ’n breakup: wanneer jy jou eks vir die eerste keer saam met hul nuwe geliefde sien.

“Ek dink ons almal is al deur dit: jy stap verby ’n restaurant en daar sit jou eks, en lyk só gelukkig met die nuwe persoon in hul lewe,” sê Adrio.

Ek Weet vang die gekompliseerde gemengde gevoelens van daardie oomblik vas.

“Mens voel pyn, maar terselfdetyd wonder jy of jou eks beter af is by die nuwe persoon, of hulle dalk meer het om te bied, op watter vlak ook al. En tog is jy ook oortuig dat hulle nooit sal ervaar wat julle saam gehad het nie, en nooit kan namaak wat julle so besonders gemaak het nie,” voeg hy by.

Verhoudingspolitiek is een van baie min Afrikaanse vrystellings is wat op hierdie genuanseerde manier oor verhoudings praat. Populêre Afrikaanse liedjies is geneig om op die lekker kant van liefde te fokus, waar albei partye nog erg verlief is. Op hierdie album word die hele spektrum van ervaring aangespreek, en die verskillende fases van die einde van ’n verhouding behoorlik uitgepluis.
Ek weet jy weet
Hy is die populêre keuse
Jy lag maar ek weet
Jy stry daarteen met jou hele wese

“Ons is baie trots op wat ons aangepak het, en weet dat baie mense daarby aanklank gaan vind. As jy al seergekry het deur ’n liefdesverhouding – en wie het nie – is Verhoudingspolitiek en veral Ek Weet net vir jou,” sluit hy af.

Ek Weet is nou op alle digitale platforms beskikbaar.

Vir meer van die Altantiseers, gaan na atlantiseers.co.za of gesels met Adrio by
adrio@atlantiseers.co.za.