Connect with:
Friday / July 19.
HomeArtikelsBekroonde akteur, Wessel Pretorius, voer gehore mee

Bekroonde akteur, Wessel Pretorius, voer gehore mee

Die bekroonde Suid-Afrikaanse akteur, Wessel Pretorius, vermoed hy gaan sy beenhare moet skeer vir die rol wat hy vertolk in “Sê My Naam Soos ’n Starbucks Knaap”  wat binnekort in Kaapstad op die planke is.

Met verskeie toekennings agter sy naam is Wessel bekend vir die manier waarop hy gehore saam met hom neem.  Hy is een van die sterk teaterstemme in Suid-Afrika en is by alle aspekte van die toneelbedryf betrokke.

GJ van Schalkwyk van www.sterre.co.za het met Wessel gesels.

Wie is jou gunsteling akteur of aktrise en ook hoe word jy deur die persoon geïnspireer?

“Dis byna onmoontlik om ’n bondige lys (wat nog te sê net één!) van gunstelinge bymekaar te gooi. Ek was nog altyd versot op Ben Whishaw se werk – sy enigmatiese, liriese spel het my diep geraak toe ek ’n student was. Die res van die lys bestaan meestal uit sterk aktrises soos Glenda Jackson, Geraldine Page en Katharine Hepburn. Ek vind skoon, sterk spel met vaartebelynde keuses baie inspirerend.”

Wanneer het jy in jou eerste professionele toneelstuk gespeel en hoe het jy dit ervaar?

“My eerste professionele toneelstuk was Korte Mette Met Die Versamelde Werke Van William Shakespeare. Dit was groot pret en ’n behoorlike grootdoop in fees-teater. Ont was my eerste stuk as teatermaker (waarin ek ook gespeel het) en dit was ’n baie persoonlike, uitdagende, maar lewensveranderende ervaring.”

Wat sal jy sê is jou toneelspelstyl en jou gunsteling toneelstuk?:

“Helfte van die genot van teaterwerk is om jouself nie net aan een styl te bind nie. Ek hou van beide stilistiese sowel as meer naturalistiese werk. My gunsteling toneelstuk as leser is steeds Who’s Afraid of Virginia Woolf.  En die laaste stukke wat ek gesien het wat my omgedop het was onder meer Nico Scheepers se vertaling van Duncan MacMillan se LungsTien Duisend Ton en Philip Rademeyer se Klippe Wat Val.”

Vertel ons meer van die toneelstuk waarin jy binnekort te sien is en hoe jy daarvoor voorberei?

“Sê My Naam Soos ’n Starbucks Knaap is ’n solostuk oor die oudste kind van ’n groot werkersklas-familie in Rustenburg wat na jare van afgeskeep word, haarself toestemming gee om liefde te vind en te transformeer in die vrou wat sy nog altyd wou wees. Ek speel ’n Annetjie “Vleis” de Vries wat nooit die tradisionele performatiwiteit van vrou-wees aangeleer het nie, so ek ondersoek tans ’n geloofwaardige balans. Ek vermoed ook ek gaan my beenhare moet skeer.”

Om vir Wessel in dié toneelstuk in aksie te sien, bespreek jou kaartjies hier.