Connect with:
Thursday / November 21.
HomeKolligBekroonde liedjieskrywer Peter E. Marx stel eerste Afrikaanse enkelsnit, Wees Weer By My, bekend

Bekroonde liedjieskrywer Peter E. Marx stel eerste Afrikaanse enkelsnit, Wees Weer By My, bekend

Die bekroonde liedjieskrywer Peter E. Marx het sy heel eerste Afrikaanse enkelsnit hierdie maand vrygestel, naamlik Wees Weer By My, met die boodskap aan almal: “Moet nooit ophou glo in jou drome nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek glo my enkelsnit is baie goed en verdien sy plek in Afrikaanse musiek, maar as ek dit uiteindelik weer kon regkry om my pad terug te vind na waar my droom waar word, kan enige iemand. Moet net nooit ophou glo of tou opgooi nie – jou tyd sal kom!”  

Geïnspireer deur die hoogtepunte, laagtepunte, hartseer en gebrokte harte wat gevolg het op ‘n verbrokkelende vorige verhouding, is die self-gepende oorspronklike komposisie Marx se lekker-luister ode tot die liefde, met digterlike lirieke wat enige hartsnaar sal roer.

En binne ’n week vanaf die vrystelling, het Wees Weer By My sommer dadelik op Apple-Musiek se gesogte 50 “Afrikaanse Treffers” speellys verskyn saam met van die grootste name in die bedryf, wat duidelik die weg baan vir wat beloon om nog ’n treffer te wees as deel van Marx se indrukwekkende en diverse repertoire.

Marx sê verder: “Terwyl hierdie avontuur van my nou weer begin, wil ek ander kunstenaars aanmoedig dat as hulle hou van wat hulle hoor, wat eerlikwaar net een musiekstyl in my repertoire is, hulle gerus vir my kan kontak vir moontlike liedjies of samewerking. In my hart van harte is ek ‘n liedjieskrywer, en sal dit ’n ongelooflike voorreg wees om ook vir ander kunstenaars te skryf.”

Voorheen het Marx talle toekennings gewen (onder meer vir “Beste Oorspronklike Liedjie”) en het hy twee nommer een treffers geskryf vir sy bekroonde band, Milk, toe die Kapenaar nog in Port Elizabeth gewoon het; dit bo en behalwe liedjies wat hy vir ander kunstenaars en selfs ‘n  musiekblyspel geskryf het.

Roem op ’n jong ouderdom 

Dit was gedurende sy studies in Port Elizabeth dat hierdie Kapenaar en sy Kontemporêre Christelike Musiek-groep, Milk, vir die gesogte jaarlikse Radio Algoa / EP Herald On The Go Show ingeskryf het – waar hul met die top toekennings weggestap het in die fel mededingende kompetisie as Beste Band, en Marx bekroon was as die Beste Klavierspeler en Beste Begeleier (na hy gevra was om klavier te speel vir een van die solokunstenaars wat mee geding het).

“As lede van Milk het ons almal ontmoet en vinnig vriende geword, danksy rolle wat ons in verskillende musiekblyspele saam vertolk het,” onthou Marx. “Op daardie ouderdom glo jy waarlik dat alles in die lewe nog moontlik is en dat enige droom waar kan word. Sommige van ons het bymekaar gekom, ‘n bietjie saam gejam, liedjies geskryf en voor ons ons oë kon uitvee, was Milk gestig. Uit die staanspoor het ons geweet dat daar iets baie spesiaals aan die gebeur was, maar ons het beslis nie verwag dat ons dit van die begin af sou ‘maak nie.’”

Kort nadat Milk as toppresteerders by die On The Go Show-kompetisie weggestap het (die kompetisie wat verskeie musikale loopbane vir kunstenaars uit die Oos-Kaap help vestig het), het twee van die liedjies wat Marx vir die groep geskryf het, die #1 posisie op Christelike radio bereik, insluitende The Steps of My Life en Prayer of the Dying. Marx het ook twee liedjies vir die wenner in die solo-kunstenaar afdeling van die On The Go Show, Maria Hayward, geskryf wat sy vir haar volgende album-vrystelling opgeneem het.

En daarna, by die volgende jaar se On The Go Show-kompetisie, het Marx weer die toekenning vir Beste Begeleier ontvang, maar meer belangrik vir hom, die een vir Beste Oorspronklike Lied – die prys wat hy tydens elke kompetisie probeer wen het. Terwyl Marx gereeld saam met Milk opgetree het, het hy verder ook suksesvol liedjies bygedra vir ‘n musiekblyspel wat jaarliks by die PE Operahuis opgevoer is. Dit het gelyk asof ‘n belowende musikale loopbaan vir Marx bestem was en niks in sy pad sou staan nie.

“Ons was egter almal op daardie stadium van ons lewens waar ons pas met ons loopbane begin het, en ‘n paar van die band-lede het ook boonop getrou om met hul families te begin. Dit het onmoontlik begin word om almal se skedules te laat saamwerk, en daarom het ons besluit om ‘n blaaskans te neem,” onthul Marx. Hy het toe eers as joernalis begin werk, waarna hy by een van die top skakelwese-agentskappe in die Vriendelike Stad aangesluit het. Hy erken: “Ek dink destyds het alles op so magiese wyse vir ons gebeur en het ons sukses te maklik bekom. Uit onkunde, en ek kan net namens myself praat, het ons dalk nooit besef hoe gelukkig ons was met die sukses wat ons uit die staanspoor behaal het nie. Dit was dus baie makliker om alles te laat vaar op daardie stadium.”

Marx vestig homself in Kaapstad met minder tyd vir musiek

Marx het na Kaapstad verhuis om meer ervaring as ’n skakelbeampte by een van die mees gesogte agentskappe in die land op te doen. “Ek was nooit van plan om my musiekloopbaan te beëindig nie, maar omdat ek die geleentheid gekry het om aan sommige van die grootste en indrukwekkendste kliënte van die agentskap te werk, het werk die grootste prioriteit geword. Ek was net so mal oor my beroep as wat ek oor musiek was, en voel nogsteeds dieselfde.” Na vyf ‘ongelooflike’ jare het Marx besluit om sy eie agentskap saam met sy voormalige sakevennoot te begin, ‘n agentskap wat tot vandag toe nog aan die gang is. Marx het wel later besluit om op sy eie te begin werk om sodoende vir verskillende skakelwese-agentskappe te konsulteer, wat hom nou die vryheid bied om buigsaam te wees in terme van hoe hy weer op sy musiekloopbaan kan konsentreer.”

“En liewe genade, kan die tyd vinnig verby gaan. Ek het dit nog altyd geniet om privaat by die huis musiek te maak en liedjies te skryf, maar daar was net nooit tyd was om enige demo’s op te neem of genoeg tyd om aktief weer deel van die musiekbedryf te wees nie, en ek het altyd in my agterkop gedink dat daar wel nog geleenthede sal wees om dit later weer aan te pak. En dan word jy eendag wakker en jy wonder verslae, waarheen het die tyd gegaan?”

Die groot terugkeer met “Wees Weer By My”

Nadat hy sy terugkeer na die musiekbedryf beplan het, het Marx die begaafde vervaardiger en komponis, Chris Querido, genader met sy demo van Wees Weer By My. ‘Chris is nou nie sommer net jou gewone vervaardiger nie – hy het nie net musiek vir verskeie film- en televisieprojekte vervaardig nie, maar hy het ook al met ‘n paar van die grootste internasionale name gewerk. Ek het die demo van Wees Weer By My na Chris gestuur, met die liedjie wat op daardie stadium baie akoesties was, en vir hom gesê dat ek net wou weet of ek dit nog steeds in my het as liedjieskrywer.

“Tot my groot vreugde het Chris positief geantwoord en gesê dat hy regtig in die lied glo en dat hy tyd beskikbaar sou stel om daaraan saam met my te werk. Maar niks sou my daarop voorberei toe Chris die finale weergawe van die liedjie aan my stuur nie. Die man is niks minder as ‘n genie nie. Daarna het ons die liedjie by dieselfde onderneming in die Verenigde Koninkryk wat gereeld saam met Black Coffee en aan verskeie filmprojekte werk net hul laaste veranderinge aan Wees Weer By My aanbring, en ek kon nie gelukkiger met die eindproduk wees nie.”

Volgende enkelsnit – beloof om ‘n groot verrassing te wees vir diegene wat in die tagtigerjare groot geword het

As Marx dus sukses behaal met Wees Weer By My, of dalk nie, sal hy wel binnekort meer van hom  laat hoor? “Absoluut! Ek het al begin werk aan die volgende enkelsnit wat so ‘n aangename verrassing gaan wees vir diegene wat in die tagtigerjare groot geword het. Die agterverhaal van alles wat hier bymekaarkom het, is eintlik fassinerend en nog ‘n droom wat vir my bewaarheid word, maar ek sal meer daaroor deel wanneer dit tyd is om die liedjie vry te stel,” sluit hy af.

Wees Weer By My is nou op alle gewilde digitale platforms beskikbaar, insluitende iTunes, Amazon Music, Google Play en vele meer.

Vir meer inligting, gesels saam met Peter E. Marx op sosiale media – Twitter (@PeterMarxCT) en Instagram (@PeterMarxCT).

Geniet ook die amptelike lirieke video vir Wees Weer By My – ‘n abstrakte uitbeelding van die boodskap van die lied wat deur Peter E. Marx self geskep is – by https://www.youtube.com/watch?v=_DLKPWojNSM.