Connect with:
Monday / December 16.
HomeBoekeBibi​ ​Slippers:​ ​Die​ ​moderne​ ​digter

Bibi​ ​Slippers:​ ​Die​ ​moderne​ ​digter

“Vriendelik, vrolik en altyd lus om iets te doen.” Só beskryf Bibi Slippers haarself. Sy is een van Suid-Afrika se mees bekende digters en het op ’n jong ouderdom begin skryf en haar talente ontwikkel deur vir o.a. skoolkoerante te skryf.

Verskeie mense het ’n invloed op haar gehad en sy vermoed die skryf-gogga het haar reeds vroeg gebyt, met haar ma wat vir haar en haar broer stories gelees het toe hulle baie jonk was. En as die storieboeke vervelig begin raak het, het sy sommer haar eie stories opgemaak. Haar pa was ook ’n boekwurm en een van haar onderwysers het in Graad 2 vir haar gesê sy gaan eendag ’n skrywer word.

Bibi se eerste digbundel, Fotostaatmasjien, was goed ontvang en het verskeie toekennings ingepalm. Volgens haar kan sy in enige plek skryf, soos wat sy ook op enige plek kan slaap. “Ek het ’n lessenaar wat vir die skryfwerk regstaan, maar ek vermy die ruimte graag,” vertel sy. Bibi het ook verskeie stokperdjies waaroor sy gaande is en slaap is boaan haar lysie. Maar sy hou ook daarvan om op die strand te lê, boeke te lees en met haar honde te speel.

Sy het nie ’n spesifieke metode van skryf nie, maar sy het haarself deur die jare geleer om nooit op ’n leë bladsy te begin nie. “Ek copy en paste iets bo-aan, of in die middel van die wit bladsy, dan is dit nie so intimiderend nie. En dit is ’n lekker beginpunt, om in reaksie op iets te skryf, of iets na te skryf, of teen iets te skryf – al delete mens dit later, dit help my om aan die gang te kom.”

Bibi vind graag inspirasie by verskeie skrywers, maar Antjie Krog en Anne Carson is van haar gunstelinge. Sy sê ook dat van haar gedigte in Fotostaatmasjien jare geneem het om klaar te skryf, maar sy is nou en dan gelukkig en skryf sommer ’n gedig in 20 minute klaar, afhangend van die bui waarin sy is.