Connect with:
Saturday / September 21.
HomeLeefstyl‘Blomseisoen ’n dinamiese, natuurlike proses’ – blomkenner Blomme nie ingeperk deur drade of grense

‘Blomseisoen ’n dinamiese, natuurlike proses’ – blomkenner Blomme nie ingeperk deur drade of grense

Namakwaland is besig om voor te berei vir die skouspelagtige blommesee wat eersdaags die streek gaan verfraai. Die groen afwagting glimlag tergend terug na entoesiastiese blommekykers wat met kleur-hongeroë na vanjaar se groener velde kyk. Dit is die stilte voor die dramaties kleurvolle storm.

Mike Spies van Namakwa Toere op Vanrhynsdorp, gesoute toergids en blomkenner, gesels oor die blomseisoen in Namakwaland. “Die jaarlikse blommeseisoen is ’n absoluut dinamiese en natuurlike proses. Dit is geensins ’n boerdery-aktiwiteit nie en word nie bepaal deur besproeïngstelsels en bemesting nie. Daar is ook geen manier dat blomme ingeperk word deur drade of munisipale grense nie. Ook is dit nie net die ‘ware Namakwaland’ wat spog met asemrowende blomtonele nie. Ons by Namakwa Toere hou daarvan om dit eerder “Blommeland” te noem.

“Die streek se blommetyd is reeds van begin of middel Julie en soms strek dit so ver as Oktober! C. Louis Leipoldt skryf juis van Oktobermaand in die Olifantsrivier en Sederberge as die mooiste, mooiste maand met viooltjies en die soet reuke van die blommeprag. Maar om veilig en seker te wees, bemark ons ons toere vir begin Augustus tot middel September. Dis nie omdat daar nie blomme gaan wees aan die einde van September nie, maar net vir veiligheid.

“Ons moet ook die feit in ag neem dat blommeland nie ’n plat stuk aarde is nie en verskillende weerpatrone speel ’n rol. Mens moet ook besef dat die hoërliggende dele soos die Kammiesberge en ook dele van die Olifantsrivier, Seder- en Piketberge koeler is tot later in die lente en gewoonlik eers van middel September blomskouspelle begin toon. Hierdie is een punt wat min mense, selfs toeriste, nie in ag neem nie. Blomme het hitte en sonskyn nodig,” sê Mike.

Wind is ’n groot faktor waarna gekyk moet word wanneer die leeftyd van blomtonele in ag geneem word. Warm bergwinde is nie ideaal vir blommekykers nie, maar is noodsaaklik vir die uitdroging en vrystelling van verskillende blomspesies.

“Namakwaland en blommeland is ’n spesialis-gebied en dis nie ’n stadstoer waar jy net na ’n plek ry en na geboue kyk nie. Nee, jy moet die blomme gaan soek. Jy moet bereid wees om honderde kilometers af te lê en jy moet besef dit gaan nie net oor die vlaktes met Namakwalandse daisies nie. Daar is soveel meer. Dit is waar die sê-ding ‘dis die klein dingetjies wat tel’ baie goed te pas kom.

“Die natuur is onvoorspelbaar en ook so die blomme. Maar wat die waarheid is, is dat die blomme MOET groei, blom en sade produseer vir die oorlewing van die spesie. Dis die blomme se een en enigste taak! Blomme sal daar wees, en ons by Namakwa Toere is veral opgewonde oor 2018, ” sluit Mike af.
Gaan kyk ook gerus na Namakwa Toere se webtuiste vir meer inligting by www.namakwatoere.com en besoek hulle ook op Facebook (@namakwatoere), Instagram (@namakwatoere) en Twitter (@namkwatoeresa).