Connect with:
Saturday / December 7.
HomeFeesteCountry-musiek tuis op Madeliefie Makietie-program

Country-musiek tuis op Madeliefie Makietie-program

Die Weskus is besig om vinnig die Country-hartland van Suid-Afrika te word met Country-klanke wat vir ’n paar agtereenvolgende ure by die Madeliefie Makietie-fees, op die prentjiemooi kusdorp, Strandfontein, gehoor sal word.

Vanjaar se Madeliefie Makietie, die grootste fees aan die Weskus, spog met van Suid-Afrika se voorste kunstenaars nóg wat saam op dié fees se verhoog in aksie gaan wees. Op Vrydag, 25 en Saterdag, 26 Oktober, verander Strandfontein in ’n miernes van feesgangers en topkunstenaars wat saam kuier. Dit is hier, naby aan die natuur, waar menswees en musiek opreg gevier word met ’n feesprogram propvol aktiwiteite.

Op Vrydag, 25 Oktober gaan feesgangers bederf word met Country-musiek as die immergewilde sangpaar Wynand en Chereé asook Tommy Dell en Dennis East die naweek op ’n hoë noot sal afskop.

“Strandfontein en die Madeliefie Makietie lê ons na aan die hart en ons kan nie wag om weer op dié ongelooflike mooi kusdorp in aksie te wees nie,” het Wynand Strydom vertel. Dié getroude sangpaar woon self aan die Weskus en is opgewonde dat die grootste fees in dié gebied ook hul Country-vriende en kollegas, Tommy Dell en Dennis East, op die feesprogram ingesluit het.

“Country lê ons baie na aan die hart en dis wonderlik dat die country-klanke sommer so paar ure na mekaar op die Madeliefie Makietie-feesterrein gehoor sal kan word,” het Chereé opgewonde vertel.

Na afloop van Wynand en Chereé se optrede is Ricus Nel, wat self bekend is vir sy besonderse vertolking van ou Country-gunstelinge, ook op die program.

“Ek kan nie wag vir dié fees nie – dit is so mooi dorp en om op daardie verhoog met die asemrowende agtergrond van die natuur te kan staan is ’n voorreg,” het Ricus gesê.

“Ek gaan beslis ook ’n paar Country-nommers in my vertoning insluit en feesgangers moet solank regmaak om Boerepompie én Hardekole saam met my te sing,” het Ricus verklap.

Van die ander gewilde kunstenaars wat oor die naweek in aksie gaan wees is Jay du Plessis, Caroline Grace, Early B, Appel, Ivan Roux, Sunset Sweatshop, Dobbelsteun, Jan Bloukaas, Rinus Goosen, Dawid Sadie, Jaco Losgelaat, Johan Myburgh en KayCee.

Behalwe vir die room van die Suid-Afrikaanse kunstenaars waarna daar uitgesien kan word, is al die stalletjies by dié fees ook jaarliks ’n hoogtepunt. Tesame met die binnenshuise stalletjies, die Liefie-mark, gaan feesgangers hul hande – en monde – vol hê met verskeie handgemaakte items, heerlike tuisgebak, ingelegde produkte en wyn wat geniet kan word.

Die pretpark, met ses verskillende ritte, open reeds ’n dag voor die fees op Donderdag, 24 Oktober en is die grootste nóg wat by dié fees aangebied word.

Besoek www.madeliefiemakietie.co.za vir meer inligting, die volledige program en om jou verblyf te bespreek. Kaartjies is te koop by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home of skakel 0861 915 8000.

Bly op hoogte van die jongste Madeliefie Makietie-nuus op Facebook, Twitter en Instagram.