Connect with:
Sunday / August 25.
HomeKolligDie hartroerende waarheid oor “Verander jou Siening”

Die hartroerende waarheid oor “Verander jou Siening”

Die 19-jarige Sumarie Jordaan, van Kaapstad, het diep in harte gekruip met haar eerste musiekvideo, van haar enkelsnit, Verander Jou Siening, wat ’n positiewe boodskap oor gestremdes deel. Die video is reeds meer halfmiljoen kere op YouTube gekyk.

Vicki Rothman van www.sterre.co.za het met haar gesels.

“My grootste inspirasie om musiek te maak en ’n storie daardeur oor te dra, is definitief my familie,” het sy vertel.

Besoek jy Sumarie se sosiale media profiele, sien jy sy skuur skouers met van die land se grootste kunstenaars soos Jo Black, Caroline Grace en die gewilde aktrise Donna-Lee Roberts.

“Caroline is beslis een van my mentors en gee my so baie raad. Steve Hofmeyr is egter die een wat my die guts gegee het om op te staan vir gestremdes,” vertel sy opgewonde.

“Dis ongelooflik moeilik om op te staan en te praat oor ’n onderwerp soos gestremdheid wat almal probeer ignoreer. Ek is so dankbaar vir hom,” het sy gesê.

Sumarie moet daagliks self met die uitdaging worstel – sy is serebraal gestremd aan die linkerkant en het beperkte gehoor in albei haar ore. Haar tweelingsuster, Elanza, wat ook in die video is, is ’n kwadrupleeg wat van ’n elektriese rystoel gebruik maak.

“Ek wil vir mense oplossings gee hoe om ons as gestremdes te hanteer en dit makliker maak vir hulle. Maar ons as gestremdes moet self ook positief na onsself kyk. Ons is dieselfde – ons doen net dinge bietjie anders,” verduidelik sy.

As liedjieskrywer is haar grootste uitdaging om musiek by haar woorde en wysie te kry.

“Ek leer myself nog kitaar speel, maar dis ongelooflik moeilik omdat my linkerkant baie swakker is as my regterkant. Ek sukkel ook bietjie om die regte note te hoor omdat ek hoë frekwensie gehoorverlies het in beide ore, maar niks gaan my keer om my droom ten volle uit te leef nie.”

“My album kan volgende jaar verwag word en die publiek kan uitsien na ’n album vol inspirasie. Ek wil dit nie afjaag nie, want ek wil hê elke liedjie moet met die luisteraars se harte praat,” het Sumarie vertel.

Geniet die musiekvideo vir Verander jou Siening hier:

https://www.facebook.com/watch/?v=2512757728738886