Connect with:
Wednesday / October 16.
HomeKolligDrama-mammas se multitalentvolle Louw Breytenbach maak oop oor reis, drama en angs

Drama-mammas se multitalentvolle Louw Breytenbach maak oop oor reis, drama en angs

Louw Breytenbach is ’n bekende entrepreneur, akteur, afrigter, beoordelaar en skrywer. Steeds beskryf hy homself as meer van ’n boekwurm as ’n sosiale vlinder. 

Hy gesels met Jeanne-Mari van Eeden van www.sterre.co.za oor belangrike onderwerpe soos angs, jouself-wees en uitdagings in die bedryf.

Op watter ouderdom het jy jou passie vir drama en die kunste ontdek?  

“Ek het in Graad 6 met dramaklasse begin, grotendeels omdat ek baie skaam was, maar ’n groot voorliefde vir die kunste gehad het. Ek was altyd mal oor redenaars, maar dit was in Graad 10 toe ek die eerste keer Los Angeles toe was, dat ek besef het dat hierdie ’n beroep kan wees, en daar het die gogga toe behoorlik gebyt.”

Jou realiteitsreeks, Drama-mammas, is te sien op VIA, kanaal 147. Waar het jy aan die idee daarvan gekom?

“Ek wou jare lank reeds die storie vertel van die onheil wat agter ’n verhooggordyn skuil. Byna 5 jaar gelede het ek saam ’n vriend, Jennis Williamson, wat een van die mede-vervaardigers is, by so ’n kompetisie gesit en gesels oor hoe snaaks dit sou wees as daar nou kameras by die geleentheid was. In 2017, het ek besluit dat ek graag so ’n reeks wil vervaardig, vir Life in A Bulb gekontak waarna ons ’n voorlegging aan VIA gemaak het … en soos hulle sê, is die res geskiedenis.”

Is realiteitsreekse iets waarin jy nog altyd geïnteresseerd was?

“Ek is baie lief vir realiteitsreekse. My liefde vir televisie het begin toe ek as produksie-assistent en later inhoudskoördineerder by kykNET NOU begin werk het, met die regstreekse program ChatNOU, wat daagliks twee ure lank regstreeks uitgesaai is. Daardie avontuur, spanning en opwinding het vir genoeg adrenalien gesorg dat ek beslis geweet het dat ek ook eendag in die nabye toekoms voor die kamera en nie net agter die kamera wil staan nie.”

Jy het ook jou eie dramateatergroep, LALT Theatre House? Hoe het dit ontstaan?

“LALT Theatre House is my dramaskool wat ek in 2012 as die Live Arts Little Theatre gestig het nadat ek op 22 besef het dat daar geen kunste aan die Oos-Rand is nie. Die teater het tot en met 2017 meer as 200 vertonings op die planke gebring en in 2018 het ons die verskuiwing na ’n teaterhuis gemaak om ons merk as opvoedkundige dramasentrum te maak. Opvoeding in die kunste lê my nog altyd na aan die hart, en ek het ook my kwalifikasie in drama-opvoeding. 

“Dus weet ek dat die enigste manier hoe dit waarvoor ek lief is kan voortleef, is deur ander kinders die geleentheid te gee om hul stem te ontdek en hul drome uit te leef. Dit is ons missie en passie om dit vir jonger leerders moontlik te maak en dit is waarlik die hart van die dramaskool wat nou met 120 voltydse leerders spog om so ’n verskil deur die kunste te maak.”

Watter raad het jy vir jong mense wat sukkel met sosiale angs?

“Angs is ’n donker vriend wat jou sal laat glo dat betwyfeling jou beste vriend is. Die beste raad wat ek kan gee is om eerstens uit te vind waarvoor jy bang is, en wat dit is wat jou vrese dryf. Sodra jy jouself beter leer ken en ontdek wat die wortel van hierdie angs is, kan jy stappe neem om jouself weer in sosiale omstandighede uit te leef. 

“Ek glo natuurlik ook dat elke jong mens ’n spesiale mentor, vertroueling of selfs berader moet hê met wie hulle kan praat om nie emosies op te bottel nie. En dit is van kardinale belang om ook altyd eerlik oor jou gevoelens te wees en te verstaan dat dit okay is om nie okay te wees nie, en dat dit ook okay is om nie altyd in te pas nie. Deur 100% jouself te wees, jouself te aanvaar en jouself lief te hê, kan jy ook leer om ander lief te hê en dit verwyder enige vrees wat deur angs veroorsaak word.”

Wat sal jy vir jong mense gee wat voel hulle in ‘anders’ en hulle ‘pas’ nie in nie?  

“Ons leef in ’n tyd waar mense meer oopkop is vir verandering. Wees jouself, almal anders is reeds gevat. Jy kan slegs ander lief hê as jy leer hoe om jouself eerste lief te hê. Moet nooit ingestel wees om in te pas as jy gebore is om uit te staan nie, want ’n leier staan altyd uit.”

Wat is die grootste uitdaging wat jy al in die industrie gehad het?

“Die grootste uitdaging in die bedryf en ook in die lewe is om te besef dat almal nie jou hart deel nie. Net omdat jy ’n goeie mens met goeie bedoelings is, beteken dit nie dat ander jou nie gaan uitbuit nie. ’n Leeu hou nie op om te jag net omdat jy ’n vegetariër is nie. Die goeie nuus van hierdie scenario is egter dat as jy leer om jou kop hard te hou en jou hart sag, jy nog steeds altyd bo sal uitkom.”

Wat kan jy my van jouself vertel wat mense sal verbaas?

“Ek dink meeste mense wat my ken is verbaas om uit te vind dat ek steeds baie skaam en teruggetrokke is, en ek verkies dikwels ’n aand tussen my boeke eerder as by ’n sosiale funksie of première.”

Wat is alles op jou program vir die res van 2019?

“Ek is mal oor reis, en is tans in die VSA. Ek kom later vanjaar weer terug na New York en Atlanta om my opvoedkundige teaterprogram #Broadway2SA te bevorder en te bemark soos ons hande neem met Amerikaanse teaters soos die Georgia Ensemble Theatre en Serenbe Playhouse om uitruilprogramme vir studente vir 2020 te beplan. My boek Sê jou Sê is ook vroeër vanjaar vrygestel en ek is steeds besig met toere by verskeie skole vir die jaar.”

 

Facebook – louw.breytenbach

Instagram – louwbreytenbach02