Connect with:
Wednesday / October 16.
HomeKolligDu Preez en sy vreemde vriende takel nog twee seisoene

Du Preez en sy vreemde vriende takel nog twee seisoene

Du Preez Strauss, die kuns-ikoon, vervaardiger van die bekende My Vreemde Vriende-televisiereeks, en The Lion King Musical orkes-dirigent, het die meerderheid van sy lewe op toer deurgebring. En steeds is die Moederstad sy gunsteling plek om te wees. En wat doen hy om te ontspan na ’n lang dag? Jy sal nie raai nie!

Jeanne-Mari Van Eeden van www.sterre.co.za praat met hom oor sy lewe in die bedryf.

Waarmee is jy tans besig?

“Ons skiet op die oomblik Seisoen 3 en 4 van “My Vreemde Vriende” wat van 6 September op VIA (DStv kanaal 147) uitgesaai gaan word. Mense gaan nie hulle oë glo as hulle sien watter interessante Facebookvriende ek HIERDIE keer op soek en mee uithang nie! Tussenin is ek ook nou al in die tweede jaar van my wêreldtoer as orkes-dirigent vir The Lion King Musical. Ek is meestal oorsee met hierdie show, so dis wonderlik om vir ’n rukkie in pragtige Suid Afrika te wees.”

Wat het jou laat besluit om kuns en filosofie te studeer?

“Ek was nog altyd vreeslik geïnteresseerd in alle kunsvorme – van die visuele kunste tot musiek tot film tot fashion. En ek’s veral geïnteresseerd in die filosofie agter kuns – die filosofie van hoe kuns nog altyd mense se belewenis van die wêreld nie net weerspieel nie, maar ook beïnvloed.  My TV-program het ook hiermee te make: Ek sien sosiale media as ’n tipe moderne kunsvorm wat deesdae ons hele werklikheid en weerspieëling van onsself help vorm. Dis waarom ek besluit het om die vreemdelinge waarmee ek vriende is op sosiale media, te gaan op soek en van hul interessante lewens te gaan leer.”

Jy het al op vier kontinente gewoon! Watter plek is jou gunsteling en wil jy eendag teruggaan?

“Dis nou ’n baie moeilike vraag. Die meeste mense glo my nie as ek sê dat om oral oor die wêreld te toer vir ’n lewe NIE net maanskyn en rose is nie – mens begin regtig ná ’n ruk net wens vir die geselskap, kultuur en kos van dit waarmee jy grootgeword het. Van my gunstelingplekke in die wêreld, soos Portofino, Marrakech en Hogsback kan nog steeds nie kers vashou by die mooiste mooiste Kaap waar ek woon nie.”

Hoe pas jy so baie dinge in jou besige skedule?

“Dit vat BAIE organisasie. Dit het my nou letterlik sewe maande gevat om my volgende twee seisoene van my TV program van die buiteland te reël, want ek moes al die episode-shoots inpas in die kort tydjies wat ek wel in SA is.”

Watter projekte sien jy uit om aan te pak in die toekoms?

“Ek het die grootste deel van my lewe geleef “op toer”, so ek het nog nooit eintlik ’n huis van my eie gehad nie. Ek begin nou ernstig daaraan dink om vir my ’n plekkie te kry wat regtig my huis kan wees.”

Wat doen jy om te ontspan na ’n lang dag?

“Net mooi niks kom naby aan koskook nie. Gee vir my ’n groot sak groente as ek gestres is, en teen die tyd dat ek dit als geskil en gekap het, ure later, is ek so gechill soos ’n uitgepaasde dassie op ’n warm klip. Koskook is hipnoties, kreatief, ontspannend en voed liggaam en siel.”

Het jy enige stokperdjies waarvan niemand weet nie?

“Mense dink ek jok as ek sê ek het vir die laaste 20 jaar van my lewe byna NET elektroniese musiek sonder woorde geluister – geen ander styl nie. Vir my werk kry ek te doen met soveel verskillende style van musiek, maar as ek kan kies om na iets te luister vir ontspanning, kies ek altyd daardie selfde styl.”

As jy een dag saam met enigiemand kon deurbring – lewendig of dood – wie sou dit wees? Hoekom?

“Ek’s so bevoorreg dat dit is wat ek elke dag doen vir my TV show – om uit te hang met die ongelooflikste mense! Baie mense het al gevra of ek nie celebrities op my show wil hê nie, en ek sê elke keer “Neewat, doodgewone mense wat amazing goed doen met hulle lewens is vir my die inspirerendste ding op aarde.”

Facebook – DuPreezStraussArtist

Instagram – dupreez_strauss