Connect with:
Saturday / July 20.
HomeEventsEinde van die Ghoema’s?

Einde van die Ghoema’s?

Die jaarlikse Ghoema-musiektoekennings is in omstredenheid gedompel nadat die uiters gewilde musiekvideo, Die Land, deur die Ghoema-komitee as finalis verbied is.

Die Land, wat deur Coleske Artists vir die Ghoema’s ingeskryf, word deur van die top Afrikaanse kunstenaars soos Bok van Blerk, Bobby van Jaarsveld, Jay, Ruhan du Toit en Steve Hofmeyr, gesing en al vyf is ook in dié enkelsnit se musiekvideo.

Arnold Coleske, die hoof van Coleske Artists, het gesê dat hulle skriftelik kennis geneem het dat die Ghoema Musiek Trust besluit het om die musiekvideo van Die Land, wat genomineer was vir Musiekvideo van die Jaar, te onttrek. “Dit is ‘n hartseer dag vir Afrikaanse musiek, kunstenaars en ons skrywers.”

Die Ghoema-komitee se besluit het gevolg nadat Multichoice, wat M-Net en kykNET besit, gedreig het om hul borgskap te onttrek omdat Steve een van die kunstenaars in dié video is.

Kort na die aankondiging het Bok Radio as borg van die die Ghoema-musiektoekennings onttrek omdat Die Land nie meer in aanmerking vir ’n toekenning kom nie. Volgens hul persverklaring het hulle dié besluit in belang van deursigtigheid en regverdigheid geneem.

Jay, wat ook in dié video is, het sy skok op op sy Twitter-profiel uitgespreek en dit as “belaglik” bestempel.

“Ek weet nie hoe mens op daardie rooitapyt sal kan staan en dit fake vir die ‘moontlikheid’ van ’n beeldjie wat niks gaan beteken nie,” het hy bygevoeg nadat hy aangekondig het dat hy nié die Ghoemas sal bywoon nié.

Bobby van Jaarsveld het ook sy teleurstelling aangekondig en bevestig dat ook hý nie die Ghoema’s sal bywoon nie.

“As ons musiek nie daar welkom is nie, is ons ook seker nie welkom nie. Raak moeg om stil te bly terwyl hulle ons boelie,” het hy op sy sosiale media laat hoor.

Steve Hofmeyr het gister na die aankondiging vir die eerste keer die volledige musiekvideo op sy sosiale media vrygestel.

“Die hemel help ons. Dankie vir almal wat, soos ek, geskok is met die “kunskaping” deur die staat en besigheidsektor. Hier is die versoenende video van Die Land, een van die mooiste liedjies van die dekade.”

Kyk gerus na Die Land se musiekvideo hier: https://youtu.be/IefASqvQ5yQ.