Connect with:
Saturday / July 20.
HomeArtikelsEksklusief: Ons kuier by Instagram se @antiegriet

Eksklusief: Ons kuier by Instagram se @antiegriet

As jy Afrikaans is en op Instagram kuier, moet jy weet wie @antiegriet is.   

GJ van Schalkwyk van www.sterre.co.za het gaan uitvind wie is agter hierdie indrukwekkende Instagram-profiel.

Shaunel Laubscher (aka @antiegriet) is oorsponklik van Upington waar sy ook haar skoolloopbaan voltooi het. Sy bly deesdae in die Kaap waar sy aan die Inscape Design College studeer. “Ek is ’n baie komplekse persoon met ’n visuele brein. Maar met visueel en al sal ek myself ook as aandagafleibaar beskryf. Ek is ook ’n baie hardwerkende persoon.”

Wat laat jou uitstaan as innoveerder en ontwerper? “Ek sal ’n plan maak en wanneer ek vir niemand daarvan vertel nie, weet ek verseker dat ek ernstig daaroor is. Ek is uitgesproke en reg om enige taak met alle mag aan te pak. Ek luister altyd en maak seker ek weet wat ek soek.

’n Geheim is dat ek hou van eet, meestal koeksisters, en wanneer ek wakker word is ek my beste ek.”

Hoekom het jy besluit om design te swot? “Ek wou nie iets swot wat soos wiskunde voel nie – iets wat my brein inperk met reëls nie. Maar ek het geleer dat ontwerp ook maar ’n paar reëls het, darem nie te veel nie. Metafories is dit net-net genoeg. Deur ontwerp te swot het ek geleer hoe om my gevoelens uit te beeld sonder om te veel te skryf.”

Hoe voel dit om ’n groot sosiale platform soos @antiegriet te bedryf? “Die terugvoering is natuurlik die hoofdoel, maar om ’n stem te hê is ’n voorreg. Antiegriet is basies my alter-ego waar ek kan sê en doen wat ek wil.”

Dink jy ’n sosiale innoveerder speel ’n groot rol in die toekoms? “Definitief. Toe ek 13 was, was Twitter die sosiale platform waarop almal was. Media was toe meer oor wat gesê word. Deesdae is dit oor wat jy doen. Die meeste profiele op Instagram is visueel-gedrewe.”

Waar sien jy jouself as innoveerder in die toekoms? “Ek sien myself op ’n plek waar ek gelukkig is, nie noodwendig in hierdie land nie. Ek sien vir myself ’n toekoms in fotografie asook ontwerp en dalk skryf. Wat ek ook weet is dat @antiegriet in die volgende vyf maande ’n nuwe klerereeks kry en ek gaan meer werk aan my YouTube-kanaal.”

 

.