Connect with:
Monday / December 9.
HomeFlieksElsje Slabbert se passie is aansteeklik

Elsje Slabbert se passie is aansteeklik

Altyd glimlaggend, mooi en geseën met soveel talent dat ons nie kan wag om haar eersdaags weer op die kassie te sien nie. Elsje Slabbert is beslis besig om haar merk in die vermaaklikheidswêreld te maak.

“Ek het van graad 1 af baie van die verhoog gehou en aan alles van Eisteddfod tot skoolproduksies deelgeneem,” gesels die beeldskone Pretorianer oor haar liefde vir die kunste.

Behalwe vir drama was sy ook gek oor toerisme, maar dit was in graad 11, toe haar pad met Jan Prinsloo, haar geliefde dramaonderwyser by Hoërskool Rob Ferreira in Witrivier gekruis het, dat sy verseker geweet het dat sy ’n loopbaan in drama wou volg.

“Sy passie vir die bedryf was só aansteeklik,” verduidelik Elsje wat net ná matriek sak en pak na Pretoria verhuis het om drama aan die Universiteit van Pretoria te studeer. Die talentvolle aktrise glo egter daarin om altyd ’n plan B te hê en het ná haar studies ook haar nagraadse opleiding in onderwys voltooi.

Sy het haar loopbaan as hulponderwyseres by Eduplex Laerskool begin en het ook aangesluit by die Performing Lifestyle Institute (Pali) aan wat haar die geleentheid gebied het om aan verskeie teaterstukke te werk en ook regoor die land te toer.

Sy was juis besig om te repiteer aan ’n Macbeth-verhoogstuk toe sy die oproep ontvang dat sy haar eerste televisierol, die karakter Suzie in die plaaslike sepie Isidingo, losgeslaan het.

“Dit was net vir drie maande maar ek was uit my vel van blydskap,” vertel sy. Sy was s óopgewonde dat sy haar twee beste vriendinne genooi het om die eerste episode saam met haar te kyk.

“Daar was vlinders in my maag maar soos ek na myself op die kassie gekyk het, het ek heeltyd gedink: ‘Wow, is dit hoe ek lyk en klink? Dis aaklig. Hoekom trek ek my gesig so’?”

Sy was vreeslik teleurgesteld maar erken tog dat sy dink dis ’n goeie ding om net die beste van jouself te verwag.

Kykers van Getroud met Rugby was uit hul vel van opgewondenheid toe Elsje, ná ’n paar maande van afwesigheid, weer onlangs haar verskyning in die sepie gemaak het. Sy speel die rol van Anja du Toit en was net lank genoeg terug om in Maryke se slaai te krap en sodoende amper haar en Fafa se troue in die wiele te ry.

Deesdae hou sy haarself met liefdadigheidswerk besig, spesifiek ’n organisasie met die naam van Judea Hope. “Dis ’n liefdadigheidsorganisasie wat ongelooflik baie doen vir minder bevoorregte gemeenskappe. Van kleuterskole stig en onderwysers oplei tot kospakkies vir gesinne in nood,” verduidelik Elsje.

Haar droom om eendag moontlik in die toerismebedryf te werk het ná ’n paar jaar ook uiteindelik ’n werklikheid geword. Wanneer sy nie besig is om te werk nie, is Elsje aan die stuur van Ilha Linga Tours, ’n vakansietoerbesigheid wat vakansieverblyf in Mosambiek uitverhuur.

“My familie het ’n lodge in die Inhambane-distrik van Mosambiek. Ons gaan vir die afgelope 10 jaar reeds elke jaar daarheen en dis net so verskriklik mooi dat ek besluit het ander mense moet dit ook sien. Ek fokus tans op die selfsorgeenhede wat ek uitverhuur. Die huisies is sowat 30 m van die see op die skiereiland.”

Haar lewe is vol en besig maar wanneer dit wel tyd is vir ontspan, geniet Elsje en haar man Marco dit om saam met vriende te kuier, saam met die familie weg te breek of net alleen op die stoep by hul huis in Erasmuskloof te kuier.

“Ons is die liefste vir ’n braai op ons stoep met baie kerse, ’n lekker kaasbord en goeie wyn,” verklap sy.

Die grootste les wat sy tot dusver geleer het? “In God is ons tot alles in staat. Jy is wat jy dink en sê, so kom ons spreek lewe, kom ons droom groot!” antwoord sy dadelik en met passie.