Connect with:
Tuesday / December 10.
HomeKolligEnkelsnit Middelklas Middelman Van Die Groep, Kontras, Gaan Jou Omtrent Aan Die Dink Sit…

Enkelsnit Middelklas Middelman Van Die Groep, Kontras, Gaan Jou Omtrent Aan Die Dink Sit…

Afrikaanse musiek – hier kom ’n ding! Maak jou reg vir die alternatiewe Afrikaanse rock groep, Kontras, want jy gaan dit nodig
hê! Want wat maak jy as jy vier volbloed-Afrikaanse jongmanne het wat ’n egte bond voel met Suid-Afrika en Afrikaans spesifiek, en nie
tevrede is met die status quo is nie? En nie net hoe sake staan met Afrikaanse musiek nie, maar ook ons uitkyk op die lewe generasie na
generasie? Kontras is reg om gat te skop – of jy nou met hul opinies saam stem of nie.

Met ’n enkelsnit wat gaan maak dat jy jou eie lewe bevraagteken en dit wat jy geglo het reg is, hoop Kontras dat hul dalk net deel van die
laastes mag wees wat “kan push om Afrikaans van ’n dooie perd wat uitmekaar uit geneuk en verouderd is terug by die water te kry om
bietjie te kan drink”…sodat ons almal weer op die ou einde eintlik net weer op ’n plek kan kom waar ons ’n lekker tydjie kan hê onder die
Afrika son, met “ietsie kouds in ons hande en met geruste harte voor ’n vuurtjie wat brand”.

So wie de hel is hierdie Kontras nou eintlik?

So hoe het dit gebeur dat hierdie duidelik uitgesproke talentvolle manne van Kontras met hul sterk opinies ’n groep begin het? Die groep
se hoofsanger, Jacques Groenewald, vertel: “’n Paar van ons het saam geswot en gewoon. Ons het almal mekaar (die res van Kontras) een aand
in ’n kroeg ontmoet en begin gesels oor wat ons van plaaslike, Afrikaanse musiek op daardie stadium gedink het – ’n generasie wat met
die kanaal MK groot geword het. Ons het almal sterk daaroor gevoel dat dit ’n flippen skande is dat Afrikaanse jongmense nie meer aan
Afrikaanse alternatiewe musiek blootgestel word nie. So in plaas daarvan om net op ons gatte te sit en te moan, het ons besluit om iets
daaraan te doen.”

“En so het ons besluit om ’n band te begin,” voeg Andrew Veldman, Kontras se kitaarspeler, by. “Vir ’n jaar lank, vanaf so einde 2017 se
kant, het ons musiek geskryf en gewerk aan presies wat ons geglo het kort in Afrikaanse musiek. Toe ons uiteindelik tevrede was met ons
werk en dat ons verdien om na geluister te word, het ons ons musiek begin opneem en ’n musiekvideo gemaak om die bal aan die rol te kry.
Ons het Kontras amptelik in Desember verlede jaar bekend gestel met drie enkelsnitte en ’n musiekvideo en is reg om nou daardie dors te
les van diegene wat ook dieselfde as ons voel oor ons unieke taal en die gap in musiek wat daar was tot nou, wat Kontras verseker gaan
vul.”

Louwrens Labuschange, Kontras se baskitaarspeler, verduidelik hoekom hul juis dié naam vir hul groep gekies het: “Ons almal is ’n kontras.
Ons haat die dinge wat ons self die meeste doen. Verder maak ons band ook musiek oor ’n verskeidenheid van genres wat self kontrasterend is.
En dan boonop lewe ons inderdaad in baie kontrasterende tye ook nog. Daar kan nie ’n beter naam vir ons en als waaroor ons staan wees nie.”

Als behalwe dit self, sing Kontras oor ’n ‘Middelklas Middelman’

Kontras het sopas hul enkelsnit, Middelklas Middelman, bekendgestel – die laaste beskrywing wat mens aan die groeplede sal toeken.
Dromspeler Daniël Botha verskaf ’n bietjie insig hieroor: “Wat beteken dit om ’n middelklas, middelman te wees? Is dit om in die voetspore van jou vader of moeder te volg en deel te vorm van die breë veralgemening wat so akkuraat is dat dit ons seer maak? Ons almal word
groot met die belofte om nie dieselfde foute as ons ouers te maak nie. Maar dan gaan trap ons wragtig gereeld in dieselfde lokvalle wanneer
ons ook moet begin om grootmens ‘te speel’.

“Middelklas Middelman is ’n weerspieëling tussen ons en die vorige generasies. Dit ’n betuiging tot die dissatisfaksie teen al die leuens
wat aan ons gelepel-voer was as kinders – al die pad deur tot jong volwassenes. Hierdie leuens is van generasie tot generasie aan seuns
en dogters verkoop en by hul kele af forseer as die Bybelse waarheid. So die lied is ’n kreet teen die wete dat jou verantwoordelikhede jou
verhoed om die lewe van jou drome te lei!”

“Ja!” spring Jacques passievol in. “Dis sommer ’n vet middelvinger teen die uitgetrapte wandelpad…die glad geryde spoor en die
deurgeloopte dogmas. Dis beide ’n verlossing en erkenning van mislukking. Al hierdie dinge van die lewe kan soms net te veel word.
Ons almal ken daai gevoel – asof alles net enige oomblik inmekaar gaan stort; so ek skep my eie droomland, ’n wonderwerk-wêreld.”

Andrew is ook nie op sy bek geval nie, en voeg by: “In hierdie wonderwerk-wêreld verdwyn die kwale van die middelklas mannetjie en in
daardie oomblik is ons almal en elkeen weer daardie kaalvoet-kunsprojek wat speel tussen poele, modder en rotse. In
hierdie tydjie ervaar ons ’n herlewing van sonskerm, oumas wat truie aantrek, sonsondergange teen die kus, draairoomys, en om te verdwyn in
die veiligheid van ’n groot familie krismis-bed.”

“Duidelik kan ons heeldag oor Middelklas Middelman praat en filosofeer,” sê Louwrens. “Almal moet maar self luister en dalk
beteken dit iets heeltemal anders vir hulle. Dit is juis wat musiek so flippen legit maak!”

Die musiek video van Middelklas Middelman is ook nou beskikbaar.

Waar kan jy nog van Kontras kry en besluit of jy gaan bly of ry? Met hul unieke talent wat inderdaad in kontras is met so baie
afgewaterde Afrikaanse musiek wat al menige oordrom of twee al laatbars het, is dit geen wonder dat Kontras se invloede strek vanaf punk,
pop-punk, alternatiewe musiek en nog meer nie. ’n Groep wat verseker met geen andere vergelyk kan word nie!

So wat wil Kontras bereik? Daniël sluit af: “Ons wil ons eie alternatiewe Afrikaanse musiek mainstream maak sodat almal daarmee kan
identifiseer op een of ander manier, maar nie noodwendig met alles saamstem nie. Ons wil jong en ouer Afrikaanse mense laat weet dat hul
taal nog lewe buiten dit wat deur die generasies by ons afgewurg is. Ons het maar ons noodlot aanvaar en moedeloos geraak met ons kultuur
en taal, en so het dit tot ons ondergang op een of ander manier gelei. So mag Kontras mense weer wakker maak met die ware passie vir
Afrikaans, sonder om daai ‘dit was soveel beter in die ou dae’ retoriek te gaan haal en daai arme ou perdjie weer verder dood te
bliksem!”

Middelklas Middelman, asook meer musiek van Kontras se onlangse twee EP vrystellings (Side A en Side B), is nou op alle gewilde digitale
musiekplatforms beskikbaar.

Besoek ook gerus www.kontrasband.com.

Lig jou opinie oor wat hul te sê het op sosiale media: Facebook (KontrasBand) en Instagram (@KontrasBand).