Connect with:
Friday / July 19.
HomeFeesteFees soek sjarmante diamante om Madeliefie Makietie te verteenwoordig

Fees soek sjarmante diamante om Madeliefie Makietie te verteenwoordig

Dit is eersdaags weer tyd vir die skone dames in die Matzikama-streek en omliggende areas om hul loopplankpassies agtermekaar te kry vir die Mejuffrou Madeliefie Makietie-kompetisie wat op Vrydag, 4 Oktober op Vredendal plaasvind.

Dié spoggeleentheid is ’n voorloper vir die Madeliefie Makietie-fees wat op Vrydag, 25 en Saterdag, 26 Oktober op Strandfontein plaasvind. Die fees is ’n hoogtepunt op die Weskus-feeskalender en vir besoekers van dwarsoor die streek en elders is dit die gewildste opskop van die jaar. 

“Ons is op soek na pragtige meisies van die Kaap tot Calvinia om hul talente na vore te bring tydens die Mej. Madeliefie-kompetisie. Die feeskomitee gaan drie diamante vir 2019 kies om Madeliefie Makietie te verteenwoordig,” voeg Schade by.

Die kaartjies vir die kroningsgeleentheid, wat om 19:00 by die sportsaal op Vredendal gehou word, beloop R250 per persoon en sluit ’n ete in. Die tema van die geleentheid is “Mardi Gras” en die kleredrag is karnaval. Darren “Whackhead” Simpson, gewilde radio-aanbieder en poetsbakker op 94.5 Kfm, is die gaskunstenaar wat die gehoor deur die loop van die aand gaan vermaak. Gaste word aangemoedig om volgens die tema aan te trek en van die aand ’n jolige karnaval te maak.

“Daar word vanjaar voorsiening gemaak vir 450 gaste. Benewens die skone talent, kan gaste hulle ook verlustig aan die heerlikste driegangmaaltyd en van die streek se top-wyne. Belangstellendes moet so gou moontlik hul kaartjies bespreek,” sê Cindy Schade, woordvoerder van die Madeliefie Makietie-fees.

As jy dié geleentheid wil bywoon en jou kaartjie wil koop, kan jy gerus Optika Oogkundiges, geleë in die Maskam Mall op Vredendal, besoek en jou kaartjie vir die glansgeleentheid daar kry.

“Mej. Madeliefie is een van die hoogtepunte van vanjaar se Madeliefie Makietie. As jy daarvan hou om in die kollig te wees, moet jy seker maak om in te skryf vir dié glansryke kroningsgeleentheid,” voeg Schade by.   

As jy wil deelneem aan Mejuffrou Madeliefie Makietie, meer oor die reëls van die kompetisie wil lees en ook die inskrywingsvorm wil voltooi, stuur gerus ’n e-pos na madeliefiemakietie@gmail.com. Inskrywings vir die geleentheid is reeds oop en sluit op Vrydag, 30 Augustus om 17:00.  

Pryse vir die wenners sluit in: 

  • BBP-kaartjies vir die feesnaweek ter waarde van R1 000
  • ’n Verskeidenheid velsorg- en haarprodukte
  • Skoonheidsbehandelings, parfuum en nog vele meer

Bly op hoogte van die jongste Madeliefie Makietie-nuus op Facebook, Twitter en Instagram. Besoek ook ons webtuiste by www.madeliefiemakietie.co.za om meer te lees.

Kaartjies is beskikbaar by Computicket, Shoprite/Checkers-, House & Home-winkels, of kontak 0861 915 8000.