Connect with:
Wednesday / May 22.
HomeMusiekGeraldine wil lewenslesse deur haar musiek deel

Geraldine wil lewenslesse deur haar musiek deel

Die negentienjarige Geraldine Scholtz wil inspirasie en lewenslesse deur haar musiek oordra. Met drie enkelsnitte en twee musiekvideo’s toor dié pragtige jong dame elkeen wat na haar snitte luister. Om die kersie op die koek te sit sing sy nie net mooi nie, maar is ook ’n kranige liedjieskrywer.

Sterre het by haar gaan kuier en haar ’n paar vrae gevra:

Wat inspireer jou as kunstenaar?

Ek is van jongs af baie lief vir musiek. In graad 1 het ek ’n oudisie vir die skool se koor afgelê en die res is geskiedenis. Die gogga het gebyt. Op negejarige ouderdom het ek my eerste kitaar vir Kersfees by my ma en pa gekry. Ek het met kitaarlesse begin en kort daarna ook met klavier- en sanglesse. Ek het aan verskeie kompetisies deelgeneem en voorvertonings vir Bobby van Jaarsveld gedoen.

Bobby se Ma en bestuurder, Ronél Brink, het na my musiek geluister my aangemoedig om my eie musiek vry te stel. In my matriekjaar is my eerste liedjie, Sommer, vrygestel en ek het nou reeds drie van my eie liedjies – Sommer, Mis en Iemand.

Dit gee vir my die wêreld se blydskap om my lewenslesse en stories te kan deel en om mense deur my musiek te inspireer. My liefde vir musiek het natuurlik gekom en dit is ’n passie. Ek is geseënd met twee wonderlike ouers wat my met elke besluit ondersteun het en altyd daar is vir my.

Ek is baie opgewonde vir wat die toekoms vir my inhou. Ek glo dat alle goeie dinge kom met tyd.

As liedjieskrywer, wat is vir jou die grootste uitdaging?

My grootste uitdaging as liedjieskrywer is partykeer om my presiese gevoelens op papier neer te pen. Soms kom dit natuurlik en partykeer moet mens ’n bietjie dieper delf.

Waar kan ons na jou musiek luister en hoe kan mense jou aan die hande kry ?  

Sommer, Mis en Iemand is op verskeie digitale platforms soos Apple Music, Google Play Music en JOOX beskikbaar.

Sommer en Iemand se musiekvideo’s is ook op YOUTube. Om Sommer te kyk, klik hier: http://bit.ly/GS_Sommer en vir Iemand hier: http://bit.ly/Iemand_GS.

Bespreek vir Geraldine deur Charlene, haar bestuurder te kontak op 082 436 2505 of besoek www.geraldinescholtz.com.