Connect with:
Thursday / November 21.
HomeKolligGermandt Geldenhuys van Binnelanders gesels oor sy rol as die Dame in Jack and the Beanstalk

Germandt Geldenhuys van Binnelanders gesels oor sy rol as die Dame in Jack and the Beanstalk

Rudi Fett van die Sterre-nuusspan het die geleentheid gehad om met die bekende Binnelanders-ster en verhoogpersoonlikheid, Germandt Geldenhuys, te gaan inloer om meer uit te vind oor wat hy in die mou voer vir die toekoms asook meer oor sy rol in die Jack and the Beanstalk-pantomime, wat in Oktober in Johannesburg afskop.

Het jy nog altyd ’n liefde gehad vir sang en toneelspel?

“Ja my hele lewe lank al. Ek hou van sing en speel al van laerskool af toneel.”

Dis jou eerste Engelse pantomime. Dink jy dit gaan vir jou moeiliker wees om in Afrikaans op te tree?

“Dit is my eerste Engelse pantomime ja. Ek het my eerste Afrikaanse een, Sneeuwitjie in 2016 gedoen. Nee wat, ek glo nie dit sal moeiliker wees om die pantomime in Engels as Afrikaans te doen nie. Ek het my teateropleiding in drama in Engels gedoen en dink eintlik dit sal vir my makliker wees om dit in Engels te doen.”

Hoe verskil die styl van toneelspel op die verhoog van die styl op ’n televisie?

“Jong, dit verskil wêrelde uit mekaar, die styl van ’n pantomime is ’n heeltemal ander manier van toneelspel. Dit is baie meer ge-animeerde manier van toneelspel, die projeksie is half “larger than life” of ’n “over the top” tipe karakter, waar dit té groot sal wees vir televisie, drama en sulke goed soos bv. ’n televisiesepie.”

As jy moet kies, sou jy toneelspel op die verhoog of vir televisie kies, en hoekom?

“Nee jong, daardie vraag kan ek nie beantwoord nie, “dit is soos om vir ’n ouer te vra, wie is jou gunsteling kind?” sê Germandt. “Elkeen het sy eie persoonlikheid, voor- en nadele. ’n Verhoogoptrede is altyd lekker, want jy kry altyd dadelik terugvoer van die gehoor af, maar met televisie, of films werk jy hard vir ses weke, maar die film kom eers oor twee maande uit, dan kry jy eers die mense se reaksies.”

In Jack and the Beanstalk speel jy die rol van die Dame. Hoe berei jy voor om ’n vroulike rol te vertolk?

“Ek kan nog nie veel sê oor die rol nie, maar wat ek wel kan sê is ek vertolk die rol van die Dame. In die tradisionele pantomime is die Dame gewoonlik die hoofspeler se ma of oppasser, wat gewoonlik deur ’n man gespeel word. Dit verander nou die hele “ballgame” want ek gaan nou Jack se Ma speel. Dit is gewoonlik die rol waar jy baie met die gehoor praat en hulle baie betrokke hou by die storie, ens. Dit is nogal ’n ikoniese rol om te speel, Tobie Cronjé het al soveel keer hierdie rol vertolk. 

“Ek sal met die tegniese dele meer navorsing moet doen vir die vertoning, om seker te maak ek kan myself elke aand grimeer, om die praat- en ook die singstem te vind en dat dit nie so manlik klink nie.”

Is daar nog iets opwindend waarna jy uitsien in 2019 of 2020?

“Wel in 2020 is daar ’n paar projekte waaraan ek besig is om te werk, maar vir nou kan ek dit nog nie deel nie, omdat dit nog net begin het. Hierdie jaar is ek steeds besig met my daaglikse rol in die sepie Binnelanders op kykNET, en dan is daar die toneelstuk wat ek en Je-ani Swiegelaar saam aanbied, genaamd Keelvol, waarmee ek die land vol toer en ons gaan ook daarmee Aardklop toe.”