Connect with:
Tuesday / June 25.
HomeArtikelsGesoute reisiger Izak Delport versamel paaie

Gesoute reisiger Izak Delport versamel paaie

Izak Delport is nie net ’n gewone Suid-Afrikaanse knaap nie. Hierdie 18-jarige avonturier van Somerset-Oos inspireer ons om horisonne te verbreed en landskappe te verken. Hy vertel ons van sy idilliese ontdekkings ver tussen êrens en nêrens.

Michelle Fourie van www.sterre.co.za het met Izak gesels.

Wanneer het die reisgogga jou gebyt en sal jy sê dat jou liefde vir reis altyd daar sal wees?

“Die reisgogga het my gebyt sonder my wete! Ek sal sê my liefde vir reis was nog altyd daar. Dit is wie ek is. Dit is deel van my wese. Ek het nog altyd daarvan gedroom om êrens op voetpaadjies van hier tot daar rond te dwaal op soek na ’n idilliese ontvlugting terwyl ek die wêreld probeer verower met my kamera in die hand. Om te reis is om op ’n ekspedisie van selfontwikkeling te gaan. Reis is meer as net ’n bestemming. Iewers anderkant die horison is die lewe waarvan jy droom.”

Kan jy ons meer vertel van waar jy al oral gereis het en waar jou gunsteling bestemming was.

“Orals is op my lys! Die plekke wat ek tot dusver toe besoek het, was meestal in Europa – Berlyn, München, Stuttgart, Nuremberg, Dresden, Praag, Salzburg, Wene, Bratislava, Boedapest, Parys, Interlaken, Mürren en Istanboel. Daar is soveel om te doen en te sien – van katedrale tot museums en straatmarkte – dat dit moeilik is om te kies waar my gunsteling bestemming tot dusver was, maar ek sal sê dit is Praag. Om daar in die strate te loop voel soos ’n sprokie. Iewers in die agtergrond sal jy die kans kry om te luister na Mozart en terwyl jy wandel sal jy onbeskryflike dinge ontdek. Die stad is oorweldig deur die invloed van kuns. Praag is werklik puik!”

As jy nou kon reis na enige plek op aarde, waar sal dit wees en hoekom?

“As ek nou kon reis na enige plek in die wêreld sal ek sê dit sal beslis iewers wees in Mediterreense lande soos die kus van Italië of die Griekse eilande. Ek droom van sorgelose sonskyndae op goue strande. ’n Paar plekke wat ek spesifiek in gedagte het is Positano, Zakynthos of Favignana vanweë die mooie natuurskoon, kuns en kultuur asook natuurlik die liplekker kos.”

Wat was die lekkerste ding wat jy op jou avonture teëgekom het – was dit die mense, kulture, natuur of enigiets anders wat vir jou uitgestaan het?

“Ek sal sê dit is ’n kombinasie van uitsonderlike ervarings wat vir my uitgestaan het. Dit is altyd die “klein dinge” wat vir my ’n ervaring van ’n leeftyd gee, soos byvoorbeeld om ’n koppie koffie te drink by Café de Flore in Parys en bonjour te gaan sê vir Mona Lisa, snags in die koue van winter hoog bo-op die Eiffeltoring te staan en een van die duisende goue stadsliggies wees, kliphard te val tydens ’n probeerslag om te ski in die sneeubedekte Switserse Alpe, of selfs om winskopies te vind tussen ’n ballingskap van mense by die Grand Bazaar in Istanboel. Elke oomblik van elke ervaring bly by ’n mens.”

Zak vertel ons dat hy vanjaar matrikuleer en daarna graag verder wil gaan reis. Fotografie is ook iets wat hom na aan die hart lê en hy wil graag later deeltyds in ’n fotografiese rigting studeer terwyl hy reis.