Connect with:
Monday / September 16.
HomeEventsGrootste SA kunstenaars sing die grootste treffers van alle tye

Grootste SA kunstenaars sing die grootste treffers van alle tye

Die skouspelagtige Classics vind weer vanjaar in Julie 2019 in Pretoria plaas en gehore kan uitsien na ’n kragtoer van treffers deur die eeue. Verlede jaar se produksie het die maatstaf gestel vir ’n ongeëwenaarde musikale produksie en vanjaar se konsert beloof om die gehore weer asemloos te laat, met van die land se beste kunstenaars op die verhoog.

“Classics 2019 sal extravaganza ’n nuwe betekenis gee. Ons gaan die grootste musiekikone en liedjies van alle genres en eras eer,” het Barry Pretorius, vervaardiger en regisseur van Classics, gesê.

“Classics was nog altyd ’n wêreldklasproduksie en met die geleentheid in die Sun Arena met sy 8 500 sitplekke, is ons is slaggereed om gehore weg te blaas,” het hy gesê.

Musiek van Queen, A Star is Born, The Sound of Music, The Phantom of the Opera, Grease, Barbra Streisand, Céline Dion, Elvis Presley, Bruno Mars, Dolly Parton, Simon and Garfunkel en The Beatles sal opgevoer word en ’n volle simfonieorkes sal hulle op die verhoog begelei.

Kunstenaars sluit in die Afrikaanse top-verkoper vir 2018, Demi Lee Moore, Phantom of the Opera-ster Jonathan Roxmouth en die Suid-Afrikaanse popsensasie, Elvis Blue, asook bekende stemme op die Classics-verhoog, Tarryn Lamb, Corlea, Amira, Touch of Class, Monique Steyn, Kevin Leo, Boki, Timothy Moloi en Jannie Moolman.

“Ek kan nie wag om vir die eerste keer deel van die Classics te wees nie. Die kunstenaars wat deel is van hierdie produksie is die beste in wat hulle doen en dit is ’n voorreg om saam met hulle die verhoog te deel. Dit gaan een massiewe konsert wees,” het Demi Lee Moore vertel.

Classics vind op Saterdag 20 Julie 2019 by die Sun Arena op die Time Square in Pretoria plaas. Kaartjies is beskikbaar by Computicket of Shoprite en Checkers-winkels landwyd. Aanlyn-besprekings kan by hierdie skakel gemaak word: http://bit.ly/LexusClassics2019