Connect with:
Friday / November 15.
HomeLeefstylHeerlike sop wat jou sal warm maak

Heerlike sop wat jou sal warm maak

Met die winter op ons voorstoep is dit ook tyd vir heerlike warm kosse om te geniet. Sop is beslis een van hulle en vandag deel Sterre ’n resep van Karen Hart, van Toorkombuis wat jy beslis byderhand gaan wil hou. Dis boonop gesond ook – en die ideale manier om groente in te kry. Kry meer resepte soos hierdie op www.toorkombuis.co.za.

Rokerige blomkool-en-patatsop

(Genoeg vir 4 – 6 mense)

  • 3 eetlepels olie
  • 6 repies swoerdlosie strepiespek, in stukkies gesny
  • 3 groterige uie, fyngekap
  • 3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
  • 1 rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en fyngekap
  • 1 x 1 cm knoets vars gemmer
  • 1 rooi soetrissie, wit gedeeltes en pitjies verwyder en in stukkies gesny
  • 1 groot of 2 kleiner patats, geskil en in blokkies gesny
  • 1 kleinerige blomkool, in blommetjies gebreek en die harde stronk gedeeltes in blokkies gesny
  • 1 eetlepel gerookte paprika
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • 6 – 8 koppies hoenderaftreksel (afhangende van hoe dik jy die sop wil hê)

Verhit die olie en braai die spek daarin totdat dit alkant verkleur het. Voeg die uie by en braai tot sag en deurskynend. Voeg die knoffel, brandrissie en gemmer by en braai vir nog ’n minuut of twee voordat jy die soetrissie, patat en blomkool byroer. Voeg die paprika by en geur met sout en peper. Laat die groente vir ongeveer 10 minute smoor. Voeg solank ’n klein bietjie aftreksel by indien jy bang is vir aanbrand. Voeg die res van die die aftreksel by en laat vir 10 – 15 minute prut of totdat die groente heeltemal sag en gaar is. Gebruik ’n handmenger of voedselverwerker om die sop te verpulp. Maak warm en bedien.