Connect with:
Thursday / November 21.
HomeKolligHybre Taljaard, van dansende plaasmeisie na supermodel

Hybre Taljaard, van dansende plaasmeisie na supermodel

Hybre Taljaard, van dansende plaasmeisie na supermodel

Van kleins af het Hybre Taljaard gedroom oor ligte, kameras en die verhoog. Toe ’n agent haar op 14-jarige ouderdom in Clicks raakgesien het, was daar geen twyfel dat hierdie jong skoonheid sou floreer in die modewêreld nie. 

Jeanne-Mari van Eeden van Sterre het die geleentheid gehad om met haar te gesels oor die bedryf, struikelblokke en selfvertroue.

 

Vertel my meer van jouself? 

“Sjoe, waar sal ek begin? Miskien met die grootoog-drome van ’n jong plaasmeisie wat gedroom het oor ligte, kameras en die verhoog? Ek is ’n plaasmeisie wat op die platteland grootgeword het en ons het 6 jaar gelede Kaap toe getrek. Die verhoog was nog altyd my passie en my loopbaan het reeds op ‘n jong ouderdom as danser begin. Ek het tot onlangs ballet, moderne en kontemporêre dans gedoen.  

“My familie is vir my baie kosbaar en ons is ‘n baie hegte gesin. Hulle is my inspirasie en my motivering.  Ek het ‘n jonger broer wat natuurlik my held is. Ek dink ons is mekaar se grootste aanhangers en mekaar se vertrouelinge. Ons deel alles!”

 

Wanneer het jy besef jy het ‘n passie vir modelwerk? 

“Ek was nog altyd gewoond aan die verhoog (deur dans), en my eerste fotosessie was ‘n fotograaf wat aksie-dansfotos van my geneem toe ek 13 jaar oud was. Dit was skadu-foto’s met spesifieke vloedligte op my. Ek het die proses ongelooflik baie geniet en het onmiddellik besef dat dit iets is wat ek graag meer sal wil doen. Gelukkig het ek die geleentheid gekry om daardie droom uit te leef.”

 

Hoe het jy in die bedryf begin?  

“Ons het Kaap toe getrek toe ek 14 jaar oud was en ‘n agent het my in Clicks raakgesien. Sy het my gevra om met hulle te gaan gesels en so het ek met advertensiewerk begin.”

 

Wie is jou inspirasie op dae wat jy motivering nodig het? 

“Sjoe, daar is elke dag iemand om my wat ek raak sien en wat my inspireer om beter te wees. Gewone mense om ons wat elke dag opstaan en ‘n verskil in ander se lewe maak, inspireer my. Mense wat ten spyte van hul eie probleme nog steeds die tyd neem en moeite doen om vir ander die lewe makliker te maak. En mense wat respek het vir ander. Dit gee my moed vir ons toekoms!”

 

Wat is jou boodskap aan jong  mense wat sukkel met selfvertroue?  

“Jy is uniek! Jy is spesiaal! Jy is kosbaar! Ons almal voel soms dat ons nie goed genoeg is nie, of dat ons tekort skiet. Dit is menslik om soms te twyfel in jouself.  Maar ons is elkeen uniek geskape. Elkeen met sy eie spesiale kwaliteite en elkeen van ons is besonders. Elkeen van ons het lig binne-in ons wat ons met die wêreld moet deel. Ons almal groei en ontwikkel op verskillende maniere en tye om die mens te wees wat ons geskape is om te wees. Soms neem hierdie proses lank en raak ons mismoedig.

“Op dae wat ek negatief raak, probeer ek fokus of dit wat wel positief is in my lewe. My unieke talente en gawes wat my anders as ander maak, maar ook op al my suksesse en op dit wat ek al bereik het. Al is dit ook hoe klein.  

“Soms is dit slegs die feit dat ek vanoggend eerder green tea as koffie gedrink het!  Ons is geneig om onsself te vergelyk met ander se lewens en suksesse, maar ons almal sal by dieselfde eindbestemming uitkom, ons paadjies is net verskillend.”

 

Enige raad vir hoe om iets te doen wat buite jou “comfort zone” is?  

“Ek glo dat persoonlike groei plaasvind wanneer jy jou horisonne verbreed en soms jou grense skuif. Daarom moet jy besluit of dit wat jy moet/wil doen vir jou belangrik is vir jou persoonlike groei en of dit die moeite werd is om dit te doen.  Wanneer jy ‘n duidelike doel het oor wat jy wil bereik, is dit gewoonlik genoeg motivering.”

 

Wat is die grootste struikelblok wat jy al moes oorkom in die modelbedryf? 

“Definitief my lengte!  Redaksionele modelle is gewoonlik 170 cm lank en daarom moes ek myself op ‘n ander manier in die bedryf vestig.  Ek doen meestal kommersiële modelwerk maar dit het my die geleentheid gegee om my uit te leef voor die kamera. Deur kommersiële werk is ek ook blootgestel aan die filmbedryf (waar ek nou voltyds werk) en daar het ek my passie daarvoor ontdek. 

“Ek het onlangs die voorreg gehad om betrokke te raak by ‘n produksie-maatskappy wat  spesiale effekte in films doen. Dit het vir my nuwe deure oopgemaak en my horisonne verbreed. Die lewe is nie ‘n eindbestemming nie, maar ‘n reis en soms moet jy jouself herskep en aanpas by jou omstandighede.”

 

Vertel my iets van jouself wat mense nie weet nie?

“Mmm… Ek hou van sagte speelgoed en het omtrent 100! Dit neig aan obsessie en ek slaap selfs elke aand met ‘n sagte kombersie.”

 

Wat is jou stokperdjies?  

“Ek is steeds baie lief vir dans maar kry ongelukkig nie meer baie tyd daarvoor nie.  Ek doen graag joga, hou van die buitelewe en spandeer graag tyd saam met vriende en familie. Verder probeer ek baie inligting en navorsing doen oor die werk wat ek nou doen. Ek lees en kyk na alles wat te doen het met “vhx”.”

 

Waar sien jy jouself oor 5 jaar?  

“Ek wil graag suksesvol in die filmbedryf wees. Soos vroeër genoem, is ek tans werksaam in die filmbedryf. Hopelik sal ek dan al saam met paar groot name gewerk het en sal ek deel kon wees van iets wat mense se verbeelding aangryp!”

Facebook – Hybretaljaard14

Instagram – hybretaljaard