Connect with:
Friday / July 19.
HomeKolligJong atleet woeker met sy talente

Jong atleet woeker met sy talente

Edwin van Wyk, bekende 18-jarige hekkies-atleet, sosiale media influencer en ambassadeur vir een van Suid-Afrika se grootste fiksheidsproduk-maatskappye, vertel ons wat sy voorbereidingstappe is voor ’n groot kompetisie asook sy wenke vir ’n beginner in die gimnasium.

Rudi Fett van www.sterre.co.za het met Edwin gesels.

 

Wat is die grootse uitdaging wat jy elke keer moet oorkom voor jy deelneem en hoe maak jy gereed vir ’n groot kompetisie?

“Die grootste uitdaging sal ek beslis sê is die voorbereiding die dag voor ’n byeenkoms. Jou oefensessie moet bestaan uit die regte oefeninge wat jou nie te veel gaan uitput nie, jy moet reg eet vir die volgende dag se byeenkoms, jou tas moet gepak word met al die nodige toerusting wat jy nodig het en jy sal vroeg moet gaan slaap om uitgerus te wees.

“Ek benader groot en klein kompetisies dieselfde, en maak seker dat ek dieselfde voorbereidingsroetine volg vir enige kompetisie. Ek verkies dit om vir sowat ’n uur voor my nommer op te warm. Ek warm ook alleen op met my gunsteling musiek wat speel deur my oorfone.

 

Jy is ’n ambassadeur vir fiksheidsprodukte op sosiale media. Hoe het jy by hierdie bekende handelsmerke betrokke geraak?

Ek wou nog altyd betrokke te wees by bekende handelsmerke en dit was een van my groot drome om ’n ambassadeur vir ’n maatskappy te word. Ek het na verskillende maatskappye in die omgewing uitgereik. Iets wat ek geleer het in die proses om by ’n bekende handelsmerk betrokke te wees, is dat jy altyd moet kyk hoe jy vir hulle waarde kan bring, of hulle kan help. Deur dit te doen, help julle mekaar en die verhouding is gesond.

 

Hoe het jy besluit om ’n sosiale media influencer te raak, en wat was die eerste stappe wat jy geneem het?

Ek het besluit om ’n sosiale media influencer te word, want ek weet ek sal eendag ’n verskil in mense se lewens maak. Eendag het ek na een van my rolmodelle (Gary Vee) se video’s gekyk, en net daarna het ek besluit ek gaan NOU begin! Want as hierdie groot sosiale media influencers dit doen, kan ek dit ook doen. Ek het dadelik begin om video’s waarin ek praat oor motivering, dag na dag op my sosiale profiel te laai. Ek het nie omgegee oor mense wat dink dis dom, of mense wat slegte kommentaar gelewer het nie. Ek het net aangehou daarmee en vandag het ek al ’n stewige ondersteuningsnetwerk van sowat 16 900 volgelinge op Instagram opgebou, wat daagliks aanhou groei.

 

Watter wenke kan jy vir die beginner in die gimnasium gee om seker te maak hulle kry die meeste uit hul oefensessie?

“As beginner in die gimnasium moet jy klein en lig begin. Leer jouself eers ken voordat jy sommer net met enige oefening of oefenprogramme begin. Wees geduldig en werk slim eerder as om haastig te wees en jouself per ongeluk te beseer. Tegniek is beslis baie belangriker as die hoeveelheid gewig of repetisies wat jy kan doen. Maak seker jy gebruik die regte tegniek vir elke oefening wat jy toepas. Wees ook selfversekerd oor jouself in die gimnasium en moenie afgesit word deur mense wat vir jou kyk of jou oordeel nie. Jy is daar om jouself te verbeter en jou eie leefstyl gesond te hou, nie om iemand anders gelukkig te hou nie.”

Hou gerus Edwin se sosiale media dop, om meer uit te vind oor fiksheidswenke en weeklikse motiveringsvideo’s.

Facebook:  https://www.facebook.com/eddievwyk/

Instagram: @eddievwyk