Connect with:
Monday / December 16.
HomeArtikelsJong top-atleet droom van Olimpiese medalje

Jong top-atleet droom van Olimpiese medalje

Reynard Strauss het op 17-jarige ouderdom reeds ’n goue medalje by die Afrika-kampioenskappe vir junior atlete vir die 110 meter-hekkies gewen. “Ons het hekkies by ons huis gehad en ek het eendag besluit om te kyk of ek kan oorspring. Ek het dit net-net gemaak maar ek was oor. Ek was so bly dat ek dadelik my ouers en sussie gaan roep het,” vertel hy.

Jeanne-Mari van Eeden van Sterre het met hom gesels.

 

Vertel my meer van jouself? 

“Ek is Reynard Strauss van Die Hoërskool Menlopark. Ek is van nature ’n hiperaktiewe mens en daarom doen ek sport. Ek kon van kleins af nie stil sit nie en het altyd saam met my sussie geoefen. Ek het rugby, krieket, hokkie en atletiek in die laerskool gedoen en op hoërskool aangegaan met hokkie en atletiek. Weens beserings moes ek hokkie los, maar kon gelukkig met atletiek aangaan. My basiese lewe bestaan meestal uit skool, atletiek en huiswerk. In my vrye tyd kyk ek fliek of speel op my Playstation. Ek hou daarvan om tyd saam met my vriende en familie tyd te deur te bring.”

Wanneer het jou liefde vir atletiek begin?

“Ek het, soos ek sê, altyd saam my sussie gaan oefen toe ek klein was, maar ek het uitgevind dat ek ’n sporttalent en ’n liefde vir atletiek het toe ek in graad 3 vir die eerste keer vir my skool begin hekkies hardloop het. My sussie het ook hekkies gedoen en ek kyk baie op na haar. Ons het hekkies by ons huis gehad en ek het eendag besluit om te kyk of ek kan oorspring. Ek het dit net-net gemaak maar ek was oor. Van daardie dag af het ek meer begin oefen en aan my hekkietegniek gewerk. My pa was ook ’n baie goeie hekkiesatleet op skool en het my gehelp.”

Wat is jou grootste droom en mylpaal wat jy eendag wil bereik?

“My grootste droom is eerstens om volgende jaar aan die Wêreld Junior Kampioenskappe te gaan deelneem. My grootste, grootste droom is om eendag ’n medalje by die Wêreldkampioenskappe en die Olimpiese Spele te wen. My doel is ook om vir die wêreldrekord te gaan.”

Wie is jou grootste inpirasie en hoekom?

“Daar is twee mens wat my grootste inspirasie is. Eerstens is dit Aries Merritt. Hy is tans die wêreld-rekordhouer in die 110 meter-hekkies wat hy in 2012 opgestel het, en wat hy in 12.80 sekondes gehardloop het. Hy moes ’n nieroorplanting kry maar het teruggekom, weer sy spykerskoene aangetrek en begin oefen. Sy liefde vir atletiek inspireer my ontsettend baie. Die tweede persoon is my sussie. Sy het ook ’n groot liefde vir atletiek, sy sukkel weer om te hardloop weens beserings maar sy het my gewys mens moenie ophou probeer nie. Sy het reeds albei haar dyspiere geskeur en ook stresfakture in albei haar voete gehad. En sy het nog steeds nie opgegee nie.”

Hoe pas jy sport en skool alles in jou skedule?

“Alles pas perfek in mekaar in. Ek het skool van 07:30 tot 14:00 en dan oefen ek tot 16:00 en intussen vat ek my ruskans. Wanneer ek ná oefening by die huis kom, begin ek met huiswerk indien ek het. Ek het genoeg tyd vir alles en alles pas perfek bymekaar en ek hoef nie vir een oomblik stil te sit nie.”

Hoe berei jy voor vir ’n groot geleentheid of byeenkoms?

“Daar is die aand voordat ek ’n groot byeenkoms het en die oggend terwyl ek regmaak, pal musiek wat kliphard in my kamer speel. Dit wek my energie behoorlik op en dit maak my sommer nog meer lus om te hardloop. Die musiek laat my bietjie ontsnap van almal se kommentaar en ook van die byeenkoms sodat ek van die stres kan ontslae raak.”

Hoe hanteer jy die druk wat soms op jou geplaas word? Plaas jy ooit druk op jouself?

“Ek hou myself altyd gemotiveerd. Druk kan net jy op jouself plaas. Ek luister na almal wat vir my raad gee en geluk wens, maar dit pla my nie. Ek fokus net op myself wanneer ek voel daar is baie druk op my. Ek kan darem maklik iets ignoreer, so vir my is dit maklik om nie te dink aan wat almal van my verwag nie.”

Waar sien jy jouself oor 5 jaar?

“Ek sien myself oor 5 jaar tussen die boeke besig om te studeer en op die atletiekbaan besig om voor te berei vir een of ander groot byeenkoms, veral vir die Olimpiese Spele wat naby daardie tydperk gebeur.”

Hoe hanteer jy dit as jy beserings opdoen?

“Dit is vir my baie teleurstellend as ek beserings opdoen, want dit gebeur gewoonlik net voor groot byeenkomste. Ek gaan egter gereeld na ’n chiropraktisyn en dit help baie. Ek laat weet my afrigter dadelik as ek voel iets is nie reg nie, en ons maak dit eers reg voordat ons voortgaan met die program. Ons forseer niks nie – ek sorteer eers die probleem uit en dan gaan ek aan met oefening.”

Wat is jou motto?

”Shit happens, die lewe gaan aan”. Dis my motto, want ek sê as iets slegs gebeur of iets gaan nie soos jy dit wil hê nie, moenie ophou of stop nie. Dit moet jou leer wat jy verkeerd gedoen het en gaan dan aan met lewe. Die lewe gaan nie net vir jou stop nie, so vergeet wat gebeur het en gaan aan. 

“Maar glo ook, want mens moet God kan vertrou en weet dat hy ’n doel het met alles wat op die oomblik gebeur en wat nog gaan gebeur. God sal jou deur elke situasie bring en daarom moet jy positief bly en aanhou glo.”