Connect with:
Sunday / August 25.
HomeEventsKaartjies vir Afrikaans is Groot Somerfees verkoop reeds soos soetkoek!

Kaartjies vir Afrikaans is Groot Somerfees verkoop reeds soos soetkoek!

Kaartjies vir Afrikaans is Groot se heel eerste produksie by die see verkoop reeds soos soetkoek nadat dié konsert die afgelope week aangekondig is. Die Afrikaans is Groot Somerfees word op Saterdag, 28 Desember op Mosselbaai aangebied en organiseerders het belowe dít is waar jy jou gunsteling kunstenaars se grootste treffers gaan hoor.

“Mosselbaai is my gunsteling vakansiedorp en ek is elke jaar daar – en nou is die hoogtepunt dat ek ook met die Afrikaans is Groot Somerfees daar gaan kuier,” het die pragtige Demi Lee Moore opgewonde vertel.

Afrikaanse musiekliefhebbers kan uitsien na Theuns Jordaan, Bobby van Jaarsveld, Demi Lee Moore, Bok van Blerk, Snotkop, Riana Nel, Elvis Blue, Steve Hofmeyr, Jay, Tarryn Lamb, Karlien van Jaarsveld, Ricus Nel, Dewald Wasserfall, Corlea én Ruhan du Toit in dié produksie wat nié misgeloop kan word nie.

“Ek weet dis nou maar eers Maartmaand, maar ek sien al klaar so baie uit na Desember en om deel te wees van die Afrikaans is Groot Somerfees,” het Bok van Blerk oor sý betrokkenheid gesê.

Karlien van Jaarsveld is net so opgewonde om einde vanjaar op Mosselbaai te wees. “Ek kan nie wag vir dié Somerfees van Afrikaans is Groot nie. Mense moet sommer nou al hul kaartjies bespreek,” het sy gesê.

Die organiseerders het vertel dat hulle uitsien om met die Mosselbaai-inwoners hande te neem sodat almal kan baat by dié ekonomiese inspuiting.

Volgens Barry Pretorius, vervaardiger en regisseur van die Afrikaans is Groot-konserte, is die konsep om die gesogte Afrikaans is Groot-konserte as ’n fees aan te bied, al vyf jaar lank in die pyplyn – met Mosselbaai as die eerste dorp om die fees op af te skop.

“Dit is vir ons belangrik dat dié konsert na lojale ondersteuners in die land geneem word en ons wil dit graag ook in ander streke aanbied,” het hy gesê.

Die Afrikaans is Groot Somerfees-konsert vind op Saterdag, 28 Desember by die Van Riebeeck-stadion plaas. Kaartjies kos R150 vir volwassenes, R75 vir kinders onder 12 en kinders onder 6 sal gratis toegang kry. Kaartjieverkope het reeds geopen en is slegs by Computicket, aanlyn of by Shoprite/Checkers en House & Home-winkels, beskikbaar. Die publiek word gewaarsku om waaksaam te wees teen derde partye wat kaartjies aanbied.