Connect with:
Monday / December 9.
HomeFeesteKaartjies vir Weskus se grootste fees verkoop soos soetkoek

Kaartjies vir Weskus se grootste fees verkoop soos soetkoek

Kaartjies vir die gewilde Madeliefie Makietie-fees wat vanjaar vir derde keer op die skilderagtige stranddorp Strandfontein aan die Namakwa-Weskus aangebied word, verkoop vinniger as ooit. 

Madeliefie Makietie se Juweelfees word op Vrydag 25, en Saterdag, 26 Oktober op Strandfontein aangebied en organiseerders het belowe dat dít die plek is waar jy jou gunsteling kunstenaars se grootste treffers gaan hoor.

“Strandfontein is ons gunsteling vakansiedorp en ons is bitter opgewonde oor al die kunstenaars wat vanjaar kom deelneem en dat die kaartjies so vinnig verkoop,” het die feeswoordvoerder Cindy Schade gesê. 

Feesgangers kan uitsien na Caroline Grace, Ricus Nel, Early B, Dennis East, Chereè, Appel, Ivan Roux, Tarryn Lamb, Jay du Plessis, Bok van Blerk, Tommy Dell, Sunset Sweatshop, Dobbelsteun, Wynand en Chereè, Jan Bloukaas, Rinus Goosen, Dawid Sadie, Jaco Losgelaat, Johan Myburgh en KayCee.

“Ek kan nie wag om vanjaar by die fees op te tree nie. Dis die hartland van Worsie Visser en ek kan nie wag om my Worsie Visser-tribute met die feesgangers te deel nie,” het die gewilde kunstenaar Ricus Nel oor sý betrokkenheid gesê.

Dis die derde jaar dat Madeliefie Makietie in die natuurlike Perdeskoen-amfiteater op Strandfontein aangebied word en hierdie jaarlikse instelling op die feeskalendar lok duisende mense na die streek. 

“Dis ons hartsplek en ons kan nie wag om ons gaste hier in die streek te verwelkom en met ons gasvryheid, heerlike kos en wyn te bederf nie”, het Jaco Louw, eienaar van Namaqua Mercedes Garage gesê.  

Volgens Theresa van Zyl, feesbestuurder, is dit ’n ware gesinsfees met aktiwiteite wat almal sal besig hou. “Voor die fees bied ons reeds die Kollig-talentkompetisie aan, en dan is daar natuurlik die Mej. Madeliefie-kompetisie en gala-aand op 4 Oktober waar ons deur die top Kaapse modelagentskap, Topco, ondersteun word.  

“By die fees self is ’n pretpark met meer ritte as ooit tevore, die Maltrap-bergfietswedren en verskeie stalletjie wat van alles tot wat aanbied.”

Volgens Sybrand Teubes van die Teubes Wynlandgoed in die Matzikama gaan hy en sy span weer van hul beste wyn aan feesgangers bedien. “Madeliefie Makietie gee aan ons die geleentheid om met ons lojale kliënte oor ons wyne te gesels. Dit is ’n hoogtepunt op ons kalender.”

Bly op hoogte van die jongste Madeliefie Makietie-nuus op Facebook (facebook.com/MadeliefieMakietieSA), Twitter (twitter.com/madeliefieM) en Instagram (instagram.com/madeliefiemakietie/). Besoek ook ons webtuiste by www.madeliefiemakietie.co.za om meer te lees.

Kaartjies is reeds beskikbaar by Computicket, Shoprite/Checkers-, House & Home-winkels, of kontak 0861 915 8000.