Connect with:
Monday / December 9.
HomeFlieksSó kan jy vanjaar se Golden Globes kyk

Só kan jy vanjaar se Golden Globes kyk

Suid Afrikaanse kykers kan Sondag se 75ste Golden Globe-toekennings regstreeks op Facebook, M-Net-kanale en E! Entertainment kyk. Só kan jy al die aksie regstreeks volg:

LEES OOK: Golden Globes: Hier is die fliekbenoemings

Rooitapyt-voorskou op Facebook
Tyd: Maandag, 8 Januarie, 01:00 – 03:00

Die 75ste Golden Globes se rooitapyt-voorskou sal regstreeks en eksklusief op Facebook uitgesaai word. The Hollywood Foreign Press Association (HFPA) en Dick Clark produksies het aangekondig dat hulle die regte gekry het om die rooitapyt-geleentheid uit te saai. Dié twee urelange voorskou getiteld, The HFPA Presents: Globes Red Carpet Live, word op Maandag, 8 Januarie tussen 01:00 en 03:00 Suid Afrikaanse tyd uitgesaai by www.facebook.com/GoldenGlobes. Van die rooitapytaanbieders sluit in AJ Gibson, Jeannie Mai, Scott Mantz en Laura Marano.

Rooitapyt-aksie op E! op DStv
Tyd: Sondag, 7 Januarie, 23:00 – 03:00

E! Entertainment (DStv-kanaal 124) gaan weer eens die aksie Maandagoggend op die rooitapyt by die Golden Globes vasvang. E! se uitsending sal om 23:00 op Sondag, 7 Januarie, begin en soos gewoonlik gee hul ’n kykie op die rooitapyt, agter die skerms, voorbereidings, onderhoude en modes. Neem kennis dat die regstreekse uitsending nie op die elektroniese programskedule op DStv wys nie, maar dat dit wel uitgesaai gaan word. Ryan Seacrest en Giuliana Rancic sal die geleentheid aanbied op E! Die uitsending sal Maandag om 18:10 herhaal word met ’n spesiale E! News Golden Globes-samevatting op Dinsdag om 19:05.

Amptelike toekenningsgeleentheid op M-Net kanale op DStv
Tyd: Maandag, 8 Januarie, 03:00

Sondag se 75ste Golden Globes-toekennings sal regstreeks op Maandag, 8 Januarie, uitgesaai word op M-Net Movies Premiere (DStv-kanaal 104) om 03:00 Suid Afrikaanse tyd. Die geleentheid sal weer om 21:10 uitgesaai word op M-Net (DStv-kanaal 101).