Connect with:
Saturday / August 24.
HomeEventsKom kuier in Vrouemaand saam by vanjaar se moewiese saamsing jol

Kom kuier in Vrouemaand saam by vanjaar se moewiese saamsing jol

Krone is vanjaar terug vir die sesde opeenvolgende keer met die lekkerste saamsingtreffers en gaan voorwaar sorg vir ’n onvergeetlike aand. In die maand van Augustus kan gehore in Kaapstad sowel as in Pretoria gereed maak vir hierdie moewiese saamsing jol, wat Vrouemaand net soveel meer spesiaal gaan maak.

Augustus is amptelik Vrouemaand en jy kan daardie spesiale dame in jou lewe nooi na die grootste saamsingjol, wat eers in die Moederstad gehou word en daarna in Pretoria. Van die mees gewilde Afrikaanse kunstenaars is vanjaar deel van hierdie belewenis. Hulle is onder andere Theuns Jordaan, Dirk van der Westhuizen, Lianie May, Kurt Darren, Juanita du Plessis, Manie Jackson, Brendan Peyper, Elandré, Refentse, Elizma Theron, Nicholis Louw, Ricus Nel, Andriëtte, Liezel Pieters, Snotkop, Robbie Wessels en natuurlik wag daar ’n verrassing of twee vir Krone-aanhangers!

Een van die pragtige Krone-engelstemme, Juanita du Plessis, het ons vertel: “Die Krone-gehore is altyd vir my ’n hoogtepunt omdat hulle altyd so lekker saamsing dat ons waarlik hulle energie kan voel. Dit is vir my altyd ’n groot voorreg om saam met die ander kunstenaars al die bekende liedjies en ou treffers te kan sing.” 

Krone 6 se program beloof om gehore op hul voete te hê met lekker ranglys-treffers wat elke konsertganger kan geniet, en verseker die woorde van sal ken. As jy solank wil voorberei om elke treffer saam te kan sing, kan jy aanlyn na die album luister deur die skakel hier te volg: https://VA.lnk.to/xQYKI 

Vanjaar se Krone-konsertreeks word op Saterdag, 3 Augustus om 19:00 (reeds uitverkoop), en Sondag, 4 Augustus om 14:00 in die Grand Arena by GrandWest in Kaapstad aangebied. Krone-aanhangers kan daarna reg maak vir die konserte in die Sun Arena by Time Square in Pretoria op Vrydag 16, Augustus om 19:00, Saterdag, 17 Augustus (wat reeds uitverkoop is) om 18:00, en Sondag, 18 Augustus, met ’n vertoning wat om 14:00 sal plaasvind.

 “Dit is ’n voorreg om deel te wees van een van die grootste jols in Suid Afrika en om saam met al my mede-kunstenaars te sing wat ook great vriende is. Ek sien ook geweldig uit daarna om al die ongelooflike Kronefans te sien en saam te kuier. Ek glo dit is ’n groot belewenis,” het Lianie May vertel. 

Kaartjies is beskikbaar by iTickets en kaartjiepryse wissel van R195 vir ’n staankaartjie langs die verhoog, tot R470 vir bespreekte sitplekkaartjies. Volg hierdie skakel vir besprekings: http://bit.ly/Krone6Kaartjies.

Elizma Theron vertel ook dat Krone vir soveel hoendervleis-oomblikke sorg. “Ek en my vriende staan op die verhoog en is basies die dirigente wat meer as 20 000 mense aanmoedig om saam te sing. Die gehoor as eenheid is dan eintlik die grootste kunstenaar van die aand. In my 14 jaar in die bedryf, kry ek daardie gevoel elke keer net by Krone”. 

Hou gerus Krone se sosiale media dop vir die jongste inligting en gebeure op Facebook, Instagram en Twitter by @kronefans of besoek die webtuiste vir meer inligting: https://kronefans.com/