Connect with:
Friday / July 19.
HomeFeesteKom spog met jou stalletjie by vanjaar se Madeliefie Makietie

Kom spog met jou stalletjie by vanjaar se Madeliefie Makietie

Alle paaie lei op Vrydag, 25 en Saterdag, 26 Oktober na die pragtige Weskusdorp Strandfontein, wanneer die immergewilde Madeliefie Makietie-fees vir die derde keer op dié gewilde dorp plaasvind. Goeie nuus vir diegene wat nog belang stel om ’n stalletjie daar te bedryf – daar is nog plek beskikbaar.

As jy unieke handgemaakte produkte – waaronder kunswerke, leerprodukte, juweliersware, unieke klere of bykomstighede en ander besonderse snuisterye en kos – op die fees wil verkoop, kontak ons so gou as moontlik om jou plek te bespreek. Hierdie is een van die feeste wat jy nie wil misloop nie, so bespreek nou!

Duisende besoekers het die Juweeldorpie tydens verlede jaar se fees besoek, wat gelei het tot ‘n reuse suksesverhaal. Strandfontein vorm die kern van die fees, met die hoofverhoog in die natuurlike Perdeskoen-amfiteater wat ’n pragtige uitsig oor die see en stalletjies regoor die dorp bied.

Tientalle kos- en handwerkstalletjies sal regoor die dorp opgestel word. Daar sal ook verskeie kuierplekke wees waar feesgangers kan eet en die streek se wyn kan geniet. Ons het vir vanjaar nog stalletjies in die perdeskoen-amfiteater-area en buite-stalletjies in die pad beskikbaar.
Indien jy belang stel in ’n stalletjie by vanjaar se Madeliefie Makietie, kontak gerus vir Jeanette Mouton by 027 213 1622 of 083 290 6830. Jy kan ook vir haar ’n e-pos stuur na madeliefiestalletjies@gmail.com, of besoek die Madeliefie-webtuiste by http://madeliefiemakietie.co.za/stalletjie-aansoeke/.