Connect with:
Wednesday / October 16.
HomeArtikelsLegendariese Casper gesels oor sy skurkrol in pantomime

Legendariese Casper gesels oor sy skurkrol in pantomime

Rudi Fett van die Sterre nuusspan het die geleentheid gehad om met die skreeusnaakse komediant en akteur Casper de Vries te gesels en vir hom ’n paar vrae te vra oor wat die toekoms inhou en meer sy rol in die pantomime Jack and the Beanstalk wat in Oktober in Johannesburg afskop.

Hoekom dink jy komedie is belangrik en hoekom trek dit mense so aan?

“Ek dink dit is soos enige ding, verskillend in smaak en style, maar ek dink dis op ’n manier soos  jare terug. Dit was destyds amper ’n taboe vir iemand om op ’n piesangskil te gly en op sy ‘gat’ te val. Mense het eers ge-’ooh’ en ge-’ah’ en later, toe hulle eers bietjie daaroor dink, het hulle daaroor begin lag. 

“Die hele punt van komedie is om te kan lag, om beter te kan voel, selfs die een wat op sy ‘gat’ geval het kan ook later daaroor saamlag.”

Hoe kry jy dit reg om humor te vind by ’n ernstige gehoor?

“Alles hang af van die produksie. As dit in ’n groot produksie is, doen jy maar net jou bes. En agterna kan jy sê die gehoor was moeilik. 

“As dit ’n eenmanvertoning is waar jy gewoond is dat die gehoor op ’n sekere manier reageer, sal ’n mens meer vrae in jou kop vra terwyl die show aan die gang is. En ek bedoel as dié ’n stand-up vertoning is, sal ek selfs vir die gehoor vra A – “Verstaan julle nie?” of B – “Kom hulle van dieselfde planeet af?” of C, mens moet maar altyd jou bes probeer om die spesifieke persoonlikheid van die gehoor te probeer uitpluis. Maar as dit net toevallig so gebeur dat dinge nie lekker uitwerk nie, dan moet jy maar net wens die tyd gaan vinnig verby, maar dis nie normaalweg só nie.”

Dink jy dit gaan ’n groot aanpassing wees om die rol van ’n skurk te vertolk en die mees gehate karakter in Jack and the Beanstalk te wees? 

“Weet jy die pantomine moet nog gebeur, ons het nog nie eers daaraan geraak nie, so ek het nog geen idee wat ek te wagte kan wees nie, maar ’n skurk is gewoonlik in die styl van ’n pamtomine ’n baie lekker karakter om te doen. Jy kan oorboord gaan om te verseker dat die gehoor jou so veel as moontlik haat, dis mos deel van die karakter.”

Casper vertel dat hy baie uitsien na die rol, want dit gaan baie pret wees om te doen. “Dit is altyd lekker om die prins of prinses te wees, maar daar is nie veel wat die prins of prinses kan doen nie behalwe as om mooi te lyk.”

Dis jou eerste pantomime. Wat het jou laat besluit om dit te doen?

“Eerste in die Janice Honeyman-era, definitief. Ek kon ’n paar keer deel wees, maar die regte geleentheid volgens my was nie daar nie, maar Jack and the Beanstalk was vir my perfek. Dit is wonderlik om deel te wees van hierdie jaarlikse ritueel, en ek is baie opgewonde.”

Verkies jy televisie of die verhoog en hoekom?

“Jong, as jy op televisie is, verkies jy die verhoog en op die verhoog is dit weer andersom, dit hang maar af – as jy hard werk aan die een medium verlang jy altyd na die ander een. Maar eintlik hou ek van beide. Ek hou ook van die radio, opneem en herbewerk, verf. Alles is op sy tyd, die lewe is tog ’n verskeidenheid.”

Wie is jou gunsteling komediant?

“Wel, die een waarmee mens altyd agteroor kon sit en kon geniet is Robin Williams, sou ek sê, maar hy is vandag nie meer met ons nie. Ek dink nogal dit is ’n teken van die tye dat een van die snaaksste mense op aarde selfmoord gepleeg het – dit is nogal erg.”

Wat is nog groot op jou agenda vir 2019?

“Wel vir hierdie jaar werk ons aan allerhande stuitige goed, en daar is ’n paar vertonings wat ek en Schalk Bezuidenhout by die teaterfees doen. Maar die jaar is ook al amper verby. Van Oktober is dit net die pantomine, pantomine, pantomine.”

Het jy nog altyd jou liefde vir komedie gehad, of is dit net iets wat met die tyd gekom het?

“Ek het, dit is iets wat ek al vanaf ek klein was het. Om situasies te vat wat gebeur het en die komiese sy daarvan te bespreek, na te maak of daaroor te skryf, geniet ek al van kleinsaf.”