Connect with:
Wednesday / May 22.
HomeMusiekMaak jou reg vir ‘n “Storm” na Spoegwolf hul tweede enkelsnit en musiekvideo vanaf hul jongste album, Koma, vrystel

Maak jou reg vir ‘n “Storm” na Spoegwolf hul tweede enkelsnit en musiekvideo vanaf hul jongste album, Koma, vrystel

Die alternatiewe Afrikaanse rock-groep Spoegwolf het onlangs geskiedenis gemaak toe hul jongste album, Koma, eerste op Apple Music se album-trefferlys koning gekraai het – die eerste keer dat ’n Afrikaanse groep bo aan dié lys pronk (waar dit mee geding het met beide plaaslike en internasionale albums). En nou is Spoegwolf terug met hul tweede enkelsnit vanaf, Koma, naamlik “Storm”.

Spoegwolf se Chris von Wielligh vertel dat dit omtrent moeilik vir die gewilde groep was om op hul volgende enkelsnit na “Blou” (die eerste enkelsnit), te besluit. Hy vertel: “Maar toe ons ouens eers daaroor begin praat het, het ons besef dat ‘Storm’ een van ons almal se gunsteling liedjies is. So as ons almal so baie van dit hou, vertrou ons dat ons aanhangers saam met ons sal stem dat dit ’n absolute wenner is.”

Soos met “Blou”, is “Storm” weereens deur die groep se hoofsanger, Danie du Toit, geskryf.

Sê Danie: “Soos ons aanhangers weet, hou ons ook daarvan om ’n liedjie saam met ’n musiekvideo vry te stel om die volle verhaal te vertel, alhoewel ons dit op ’n unieke Spoegwolf manier doen. So ons is trots om die musiekvideo, wat ons in Muizenberg geskiet het, ook bekend te stel.”

Die musiekvideo kan by geniet word: https://www.youtube.com/watch?v=aQhXI-opWSg.

En waarom die naam Koma vir die album? Moskou du Toit verduidelik: “Die vrystelling is ’n konsep-album wat gaan oor trauma. Ons het gedink dat die idee van ’n koma goed daarby inpas. Die liedjies volg iemand wat deur iets vreeslik gaan – opstaan, val…opstaan, val…en dan uiteindelik besef dat daar niks oor is behalwe die noodsaaklike droom van liefde en die bietjie lig wat nog in hom blink nie. Die luister-ervaring moet voel soos ’n diep slaap; soos ’n koma.”

So hoe verskil Koma van Spoegwolf se vorige drie albums? Albert van der Merwe vertel gretig: “Ons het baie meer tyd op repetisies spandeer wat gelei het tot meer van ’n ‘rock’ verwerking op sommige van die snitte. Die album is ook ons mees volledige konsep-uitreiking met temas wat herhaal word en kunswerke wat bydra tot die storie. Die hele album vloei in een – van begin tot einde.”

Vir meer besonderhede, besoek gerus spoegwolf.com.

Gesels ook saam op sosiale media: Facebook (Spoegwolf) en Instagram (SpoegwolfOfficial).

“Storm”, asook die volledige album, is op iTunes en Apple Music te koop. “Koma” het ’n totaal van 14 snitte, waarvan 2 instrumentele verwerkings is.