Connect with:
Tuesday / November 19.
HomeFeesteMadeliefie Makietie met rede die grootste fees aan die Weskus

Madeliefie Makietie met rede die grootste fees aan die Weskus

Die skilderagtige Weskus-vakansiedorp, Strandfontein, is weer vanjaar die tuiste vir die gewilde Madeliefie Makietie-fees. Dié dorp sal op Vrydag, 25 en Saterdag, 26 Oktober, wemel met feesgangers en van die land se topkunstenaars wat dié fees, wat homself as die grootste aan die Weskus gevestig het, bywoon. 

Die immergewilde Tarryn Lamb is een van die topsterre wat in die natuurlike amfiteater van die Perdeskoen op die dorp sal optree. Sy is veral bekend vir haar treffers soos Mal Oor Jou en Vier Woorde en is vanjaar vir die eerste keer by dié gewilde fees. 

“Ek sien al so uit na die Madeliefie Makietie en om uiteindelik dié dorpie te beleef. Almal vertel van hoe mooi die verhoog teen die sonsondergange van die Atlantiese Oseaan afgeëts is. Ek kan ook nie wag om almal van die streek te ontmoet nie. Dis waar ons harte gaan wees Oktober,” het sy gesê.

Vir Bok van Blerk, wat ook pas sy nuwe album, Hoor Ons!, vrygestel het, is dié fees ’n hoogtepunt.

“Ek sien baie uit na die Madeliefie Makietie en feesgangers kan uitsien om van my ou én nuwe treffers te hoor”, het Bok vertel. 

Van die ander gewilde kunstenaars wat met verhoog by die fees gaan deel is Jay du Plessis, Ricus Nel, Caroline Grace, Early B, Dennis East, Appel, Ivan Roux, Sunset Sweatshop, Dobbelsteun, Wynand en Chereè, Jan Bloukaas, Rinus Goosen, Dawid Sadie, Jaco Losgelaat, Johan Myburgh, Tommy Dell en KayCee. 

Dié fees roem homself daarop dat dit meer is as nét ’n musiekervaring, want behalwe vir al musiekbederf, spog dié fees ook met ’n magdom stalletjies met iets vir elke smaak. Vanjaar sal daar ook binnenshuise stalletjies, die Liefie-mark, waar feesgangers sal kan kies en keur tussen lekker tuisgebak, ingelegde produkte, soetgoed, wyn en verskeie handgemaakte items.

’n Hoogtepunt op vanjaar se feesprogram is die pretpark wat die grooste nóg is om hier aangebied te word. Met ses verskillende ritte, soos die Twin Ranger, Tea Cups, Octopus en Tilt ’n Whirl, gaan die jongspan ure se genot hê. Die pretpark open reeds ’n dag voor die fees, op Donderdag, 24 Oktober. 

Besoek www.madeliefiemakietie.co.za vir meer inligting, die volledige program en om jou verblyf te bespreek. Kaartjies is te koop by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home of skakel 0861 915 8000.

Bly op hoogte van die jongste Madeliefie Makietie-nuus op Facebook (facebook.com/MadeliefieMakietieSA), Twitter (twitter.com/madeliefieM) en Instagram (instagram.com/madeliefiemakietie/).